Ek Steve alweer...

Saterdagaand was dit weer sulke tyd. Dit was egter die eerste keer saam met my man…

Steve het opgetree by Kleine Valleij net buite Wellington. My man is glad nie ‘n groot aanhanger nie, terwyl ek ‘n slaafse navolger is van dié man met die losse sedes. Dit het baie oortuiging en mooipraat gekos om my Lambrecht-man te oorreed om saam te gaan. Hy moes na ‘n bloubul se sang gaan luister terwyl die Bloubulle en die Stormers mekaar die stryd aansê op Loftus Versveld. Dit was baie gevra, maar ter wille van, het hy ingestem. Hy het die man immers nog nooit op ‘n verhoog gesien nie. En dis iets wat elke Suid-Afrikaner behoort te doen! My eerste keer was in standerd twee in Kakamas se N.G. Kerksaal. Ek het daardie aand my hart op Steve verloor. Totaal en al. Weke aaneen het ek na sy kasset met die rooi omhulsel op my geel “walkman” geluister. Oor en oor en oor.

Ons maak ‘n bondel en Wilma stuur die epos Woensdag uit – wie bring wat vir die piekniek by Steve. Sommer vinnig is ons piekniekspyskaart uitsorteer en begin tel ons die ure af na Vrydagaand.

Ons kom 90min. vroeg vir sy optrede, en tog is daar byna nie meer sitplek oor nie. Die meeste mense het ook al begin mandjies uitpak. Ek wil-wil my vergaap aan elke groepie se peuselgoedjies. Links van ons het vier gesit met van ‘n groot Tupperware bak vol frikkedelletjies met takkies pietersielie vir versiering, tot kort gemarineerde ribbetjies wat die tannie taamlik smaaklik aan gesmul het. Die groot tannie en oom agter ons het weer hoender gehad. Baie hoenderboudjies wat hulle sommer so met een trek deur die mond alle vleis afgestroop het. En dan was daar die melktert mense skuins regs agter ons. Almal het dolgelukkig gelyk met ‘n plastiekglasie wyn (Jy moes dit daar koop) of bier in die een hand, en ‘n hoenderboudjie, frikkedelletjie of iets ooreenstemmend in die ander hand. Wagtend op Steve. Ek het net weer besef: Suid-Afrikaners is gesellige mense. Ons is eetmense. Ons is buite mense. Ons is lekker mense.

Ons groepie se piekniekplekkie was gesellig – op Lyndi se groen deken, ons rooi en bruin sagtekombersie en Margot se vrolike helder blou en rooi deken. Ons kos was net so vrolike aangeleentheid. Die “single ladies” het gesorg vir kase en beskuitjies. Lyndi, Margot en Jolandi het ‘n bekoorlike kaasbord kom uitpak. Wilma en Devilliers het gesorg vir biltong, droëwors en heerlike Woolies paaseiers vir nagereg. Ons piekniekkos was tuisgemaak. Lambrecht kon nie wag om ons groot blou Tupperware bak uit te pluk nie. Hy was so trots op die feit dat ons kos tuisgemaak is. Ek was skaam. Die dae van piekniekkos in jou eie kombuis maak is bietjie verby. Ons het die Woollies era betree met mooi kossies in mooi verpakkings. My tuisgemaakte frikkedelletjies uit my ma se boek, en die kaaspasteitjies is toe mooi ontvang. Wilma en Lyndi het my so gekomplimenteer daarop dat ek totaal oor my kompleks is. Met ons volgende piekniek sal ek dit beslis weer maak!



Wat Steve betref. Hy was weer skitterend! My man was net so skitterend. Hy het uit sy pad gegaan om elke oomblik van die Steve vertoning saam met my te omhels. Ek vermoed egter dat hy die Steve-skare meer geniet het as Steve self. Skuins voor ons het ‘n tannie wat beslis al haar 50ste verjaarsdag gevier het, haar arme man so skaam gemaak. Sy was heel aand op haar voete. Saam met elke liedjie het sy danspassies uitgehaal. Haar arms het saam gewieg op maat van musiek. Sy het baie mense om haar vermaak. Haar arme man het dit geweet.

Die Bloubulliedjie het ook groot opspraak verwek. My man het gevoel dis swak smaak om ‘n bloubulliedjie in Stormerwêreld te sing. Baie swak smaak. Die vrou net langs  ons was klaarblykblik ‘n bul. Sy het dit byna nie gemáák toe Steve wegval met Bloubul nie. Sy het wild saamgedans en dele van die liedjie luidrugtig in haar man se gesig saamgesing. Ek vermoed haar man is nie ‘n bul nie. Vir een kort oomblik het ek gedink hy gaan haar ‘n oorveeg gee as sy nog een keer “Bloubul eet nie van die vloer af nie” half histeries in sy gesig skree-sing.

Op ons pad uit stap uit ons verby ‘n lang ry mense. “Watse ry sal die wees,” wonder Lyndi hardop. “Seker mense wat kaartjies koop vir sy volgende vertoning,” antwoord Lambrecht droogweg. Lyndi lag haar uitbundige laggie en die oom voor ons kyk half gesteurd om, om te sien wie die twee stemme is.

Dis die ding van Steve-vertonings. Jy mag maar hard lag en hardop saamsing. Jy mag half simpel uitbundig raak. Want dis wat by “Steve shows” gebeur…

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep