Vet skaaprib en soetpatats

Ek onthou die eerste maaltyd wat ek vir my man in Engeland voorberei het so goed. Dit was 'n sampioensop met interessante broodrolletjies. Vandag weet ek jy maak nie punte by my man met sop nie. Toe het ek dit nog nie geweet nie. Die onweerswolke wat pal oor die hele Engeland hang het my egter laat luskry vir warm kos. Eerste keuse sou my ma se skaapboud, ouma Suzie se braai aartappels, rys met 'n vetterige sousie daaroor en 'n skeppie soetpatats wees. In Engeland is nie 'n pa André wat skaapboude van die Boesmanland voorsien nie. Jy koop ook nie daar 'n skaapboud vir sommer net nie...

Dus moes ek 'n goedkoop en maklike opsie kies: Warm sampioensop.

Terug in die land van melk en heuning, Afrikaans en skaapvleis, voel ek weer meer vertroud agter die kospotte. Gee my skaapvleis in enige vorm, en ek weet wat om daarmee te maak. In Engeland kon ek groente, vrugte, heerlike vis, hoender en vark teen 'n appel-en-ui kry, maar ek was verlore.

Gisteraand, laataand, lê en gesels ek en Lambrecht sommer so in die bed oor ditjies en datjies. My man is altyd so verheug as ek die aand wel geselserig is in die bed. Die norm is dat my oë toeval iewers tussen die kommas van sy eerste storie.

"My engel, ek wil jou nou nie in die gesig vat nie, maar jou kos is deesdae baie lekker. Jy het beslis jou 'game' gelig sedert ons terug is uit Engeland."

Sy versigtige opmerking wil-wil my sommer laat giggel so in die donkernag. "Dis omdat ek meer tuis voel met 'n vrieskas vol vleis en kruideniers uit Checkers, as al die mooi verpakkings en volksvreemde kosse in Engeland se mooi supermarkte," verduidelik ek. Ek onthou my mooi pastas met pesto, sonder vleis. Ek onthou my eksotiese groentesoppe en interessante broodjies. Wel ek het gedink dis glad nie sleg nie.

Blykbaar beindruk ek my man meer met die frikkedelle uit my ma se resepteboekie. Of die soetpatats uit Hamlet se N.G Kerk resepteboekie. Of Liezl se liplekker hoenderpot met Checkers se hemelse vars potbrood en botter daarmee saam.

En vanaand slaan ek weer my man se voete onder hom uit. Vanaand eet ons Richmond rib, soetpatats, bruinrys en van Marietjie se heerlike ingelegde beet by kerslig. Ek weet my man gaan eet dat daar eintlik so vetstrepie oor sy lippe lê. Die laaste skapie wat my pa gestuur het, het 'n taamlike vet ribbetjie het ek vanoggend gesien.

Wie het gesê die pad na 'n man se hart loop nie deur sy maag nie?

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep