Sjokoladelus op 'n Vrydagaand

Vrydagaand na aandete, net voor “Dis hoe dit is met Steve” begin, identifiseer ek ‘n groot lus. ‘n Groot lus na iets uit Woolies se “To Go” winkeltjie by die Engen vulstasie in Paarl se hoofstraat. Lambrecht stem in om gou saam te ry. Hy sal my help kies.

Oppad kan ek sien my bestuursvernuf maak hom kriewelrig. Ek vermoed ek ry te stadig. Ek stop te lank by stopstrate en trek nie onmiddelik weg as die lig groen geslaan het nie. En toe parkeer ek nog soos my watsenaam voor die winkeltjie ook.

Dit neem my weer onnodig lank om te besluit waarvoor ek lus het op ‘n Vrydagaand om 21:00. Die finale keuse lê vir my tussen ‘n “chocolate brownie” en ‘n pekanneuttertjie. Lambrecht beduie dat hy iets baie lekkerder gesien het. Ek moet kom kyk. Dis sy absolute gunsteling. Terwyl ek met hongerige oë staar na die pakkies “brownies” met ‘n karamellagie en dan sjokolade daaroor, kom druk ‘n vreemde man sommer hier naby verby my. “Dis regtig baie lekker,” lewer hy ongevraad kommentaar van agter af. My man gee hom ‘n vuil kyk agterna. Niemand druk sommer so naby verby sy vrou en lewer dan nog kommentaar ook nie. En buitendien maak moegheid dat my man se draad korter as normaalweg is op ‘n Vrydagaand. Mens moet seker ook simpatie hê met ‘n man wie se vrou 31 weke swanger is…

Terwyl ons in die ry staan met ons verruklike pakkie sjokolade bederfies, kom druk die man weer tussendeur ons, oppad na die broodjies. Lambrecht hou homself mooi in. Toe ons voor by die “till” kom, vra my man die vroutjie wat daar werk uit oor die man. Sy verduidelik dat hy honger is maar sy geld verloor het. Hy hang nou maar hier rond en hoop iemand sal hom geld gee. Hy bedel egter nie. Die oom wat langsaan betaal hoor ook die storie. Ons kyk almal om. Ons kan almal sien hy’s vreemd, én honger.

Die oom lyk baie nors, amper soos my man. Ek vermoed dat hy ook bitter moeg is op ‘n Vrydagaand. Toe hy klaar betaal het, druk hy ‘n klomp silwer in die vroutjie agter die “till” se hand en mompel net so onderlangs dat sy dit vir die man moet gee. Ek sien my eie man het ook nou ‘n diep frons op sy voorkop. Hy begin grawe ook wild in sy eie beursie en maak dit ten einde leeg in sy hand. Die inhoud druk hy net so vinnig en terloops in dieselfde vrou se hand en mompel ‘n vinnige, “Die ok,” voordat ons die winkel verlaat.

Die vroutjie agter die “till,” met haar blou Engen-klere aan lyk behoorlik soos ‘n kat wat ‘n piering room gekry het. Ek kan net raai waarom. Sy gaan nou vanaand vir hierdie witman ‘n broodjie kan koop, met iets te drinke daarby. Sy gaan vanaand ‘n verskil kan maak. Sy gaan vandag meer doen as net “till” slaan en kleingeld uitkeer.

Ons is moeg vir bedelaars. Ons harte het kliphard geraak vir mense wat met karton “briefies” onder robotligte staan. Tog staan ons nie koud teen ‘n hongerige man in nood op ‘n Vrydagaand om 21:00 nie. Dis goed om te weet dat ons harte nog kán omgee op die regte tyd.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep