Ons vier die liefde

Ons heel eerste Valentynsdag is gevier met 'n maanligpiekniek by die Taalmonument. Ek onthou dat Lambrecht heelaand net in my oë wou staar. My maag het later gegor vir die kaas en beskuitjies. Ons het vonkelwyn gedrink tot my kop lig was van die liefde. Na die piekniek het ons gaan dans by Opskop. Net ons twee, omdat ons lus was vir dans.

Ons tweede Valentynsdag het ons nog by Santé Spa gevier met 'n spa-behandeling. My heel eerste spa ervaring. Ek was in die wolke. Na die afspraak is ons eers Paarl Mall toe vir 'n CD van Enya. Ons wou nie afval van die wolkie waarop ons was nie. Op maat van Enya is ons na Val de Vie - die pragtige landgoed met perde resiesbaan. Ons het aan "cocktails" sit en filosofies raak oor die lewe. Ons was jonkgetroud - opgewonde oor ons toekoms saam.

Laasjaar was ons Valentynsdag in Engeland. Dit was onmenslik koud. Die kombuis se verwarmer was byna heeldag aan. Ons voorgereg was kaas en beskuitjies uit die hartjie bordjies wat ek by my skoonma gekry het. Lambrecht het die heerlikste salmon gemaak vir hoofgereg. Buite was die wêreld ysig koud. Ons kombuis was egter knus en gesellig. Vol van die liefde tussen my en my mooi donkerkop man.

Maar hierdie jaar was absoluut die hoogtepunt.

Lambrecht wou iets maak waarvoor ek lus was. My "lusse" verander taamlik gereeld, maar teen Woensdagaand was dit 'n heerlike stukkie steak met 'n klein vetjie aan. Hy maak dus toe so. Na werk gaan maak ek 'n swik by Woolworths. Dis nie my normale inkopieplek nie, maar vir Valentynsdag mag 'n mens seker 'n bietjie oorboord gaan! Ek koop 'n slaai en nagereg, ook kaas en "gluten free, wheat free" beskuitjies in 'n piepklein pakkie wat dieselfde kos as 'n groot pak chips by Checkers!

Ons het vooraf afgespreek dat ons vir mekaar 'n liefdesbriefie sal skryf. Dit moet handgeskrewe wees. Niks geskenke hierdie jaar nie. Met my tuiskoms ruil ons briefies. My man het meer as 'n briefie geskryf. Hy het sommer 'n hele liefdesgedig neergepen. Te mooi. My vrouehart wat gemaak is van blomme en mooigoed en gediggies vermurwe heeltemal. Hy verras my ook met 'n "pregnancy pamper massage" by Lyftaal. Sommer vir my en ons dogtertjie, verduidelik hy.

Ons vier gisteraand Valentynsdag op ons voorstoep. My man braai die steak soos net hy kan. Ons eet ons steak en ons Woolies slaaitjie by 'n kersliggie aan my ma se eetkamertafel. Daarna nooi my man my buitentoe vir gesels op die "sleeper couch" op ons stoep. "Sal ons nog saam op hom kan lê?" wonder hy so half terloops. Dit sukkel maar en die helfte van my swangermagie hang half oor, maar ons pas in. So lê en gesels ons, kyk ons sterre en onthou ons saam ons mooi storie. Later kry my voete koud en hy maak hulle vir my warm.

Daar's geen Enya musiek of "cocktails." Daar's niks blink aan ons 4de Valentynsdag saam nie, maar vir ons altwee is dit meer as perfek. Heelwat later gaan sit ons knus op Lambrecht se leerbank voor die TV met ons Woolies "Mint Chocolate Low Fat Milkshakes."

En vir hierdie een aand is die lewe meer as perfek. Ons vier die liefde soos mens moet. Die liefde is immers iets wat maar gevier kan word!

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep