Adene se Plaasblomme


Saterdagnamiddag loop ek en buurvrou Leandri mekaar op die grasperk voor ons huise raak. Dis altyd ons lekkerste kuiertyd – so op die gras voor ons huise, met kinders wat rondom ons speel. Ons albei se mans ry die volgende dag die Argus en ons praat sommer oor ons planne met die kinders so sonder die pappas. Ek moet byvoeg – ek wou regtig nie graag uitmis op Lambrecht se eerste Argus nie. Ek was selfs bereid om met die drie kinders by die wenstreep te wag vir sy oomblik van glorie.

Manlief ken my egter nou al teen hierdie tyd goed genoeg. Ek is glad nie ‘n realis nie. Die dromer en optimis in my “sien” sulke uitstappies altyd lekkerder as wat dit ten einde uitdraai. Die werklikheid is dat ek met drie kinders gaan sukkel om parkering te kry. Dan gaan ek sukkel om in daardie klein spasie te parkeer. Teen die tyd dat ons uit die motor is gaan ek met drie baie geïrriteerde kindertjies baie ver moet stap om by die wenstreep te kom. Die kanse is baie goed dat een of meer honger, dors of ‘n piepie gaan hê teen die tyd dat ons is waar ons moet wees.

Toe Leandri vertel van Adene’s Farm Flowers se opedae op Sondae, klink dit onmiddellik na ‘n uitstekende plan (Dis elke Sondag tot die 12de April). Dis net buite Wolseley en dus nie te ver van ons af nie. Skuins na 8 vertrek ek en my buurvrou in twee motors met vyf kinders na Adene’s Farm Flowers.

Wat ‘n aangename verrassing!



Sommer met die intrapslag word ons gul ontvang deur iemand wat ons verduidelik hoe en waar ons moet stap om alle blomme te sien. Die blomme groei in reuse tonnels. Dis ‘n kleureprag wat jy nie eintlik goed genoeg op ‘n foto kan vasvang nie. Die rose ruik nog soos outydse rose na régte rose.
Jy moet deur ‘n stukkie van ‘n peerboord stap om van een tonnel na ‘n ander te kom. Terwyl ons tussen die peerbome stap hoor jy die vrolike geklets van voëltjies iewers. Verder is dit ‘n salige stilte wat hang oor die plaas. In die verte sien jy berge. Die lug voel vars. 

Vir die eerste keer in ‘n lang tyd voel dit asof ek weer regtig kan asemhaal.


Die kinders is in hul noppies met die uitstappie. Hulle hardloop vooruit en lag die meeste van die tyd uitbundig van genot. Wat kan dan nou lekkerder wees vir ‘n kind as om met stofvoete deur die mooiste blomme te stap?

Toe ons deur al die tonnels is gaan soek ons vir ons ‘n plekkie in Adene se tuin. Orals sit mense langs eenvoudige hout tafels en smul aan tee en koek. Ek en Leandri kry ‘n heerlike piekniekplekkie onder ‘n avokadoboom naby ‘n klimraam vir die kinders. Die wortelkoek, rooi fluweelkoek en sjokoladekoek rond die oggend perfek af. Net vir ‘n oomblik voel dit asof tyd stilstaan in Adene se lieflike tuin. Die kinders klouter in die avokadoboom, die reuk van filterkoffie hang in die lug en elke nou en dan hoor jy iemand lag. (Daar was baie mense, maar nie TE veel nie. Dit het glad nie oorvol gevoel nie!)

Die kersie op die koek is die bossie blomme wat jy oppad uit by die koelkamer kan gaan oppik. ‘n Bossie dahlias is by die prys ingesluit. Jy mag egter nog blomme en saad koop as jy wil. Die mooiste blomme staan in emmers en jy kan kies na hartelus.

As jy wil asemskep of asemhaal of inspirasie kort – ‘n oggend tussen Adene’s Farm Flowers is werklik so goed soos ‘n vakansie weg. Jou kinders sal dit net so geniet. As jou man nie hou van blomme nie, koop vir hom die Rapport en kry ‘n lekker plek onder die bome. Die melktertjies en filterkoffie sal hom gelukkig hou. (Of gaan saam met jou buurvrou!)


As jy naby genoeg is, maak ‘n plan en bederf jouself met ‘n oggend in Adene se blommewêreld!

https://www.adeneflowers.co.za/open-days/

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep