Korona is op ons


Maandagoggend vroeg het ek soos baie ander mense die winkels ingevaar opsoek na Vitamine C, Dettol handewasseep en “hand sanitizer.” Nodeloos om te sê kon jy nie meer ‘n enkele “hand sanitzer” in Wellington opspoor nie. In Clicks se ry het ek ‘n tannie hoor mompel – “as die blêrrie Chinese nie so alles eet nie, het ons nie nou met hierdie krisis gesit nie.” Nog later het ek gesien hoe sy trane onopsigtelik afvee terwyl sy vir ‘n vriendin vertel hoe hulle ‘n vakansie waarna hulle al so lankal uitsien, moes kanselleer. Dit het geklink na ‘n kuier by kinders oorsee.

Korona is nou ons werklikheid.

Maandagmiddag gaan kuier ons by my tannie in Durbanville. Ons laaste uitstappie in ‘n lang tyd. By Paarl se afrit vertel ek sommer so terloops aan die kinders dat die eerste gevalle van Korona ook nou in die Paarl aangemeld is. Daniël wys my vinnig daarop dat ons liewers ons ruite moet toe hou as ons deur die Paarl ry. Netnou waai die Korona in.

Ons bel gisteraand my pa om hom geluk te wens met sy groot 60. Na die verjaarsdagwense kan die kinders nie wag om vir oupa te vertel dat Korona hier is nie. In ‘n kind se lewe is dit ‘n groot ding as jy uit die skool kan bly en jou pa van die huis af kan werk. Dis sekerlik een van die wonderlikste dinge wat met jou kán gebeur.

Manlief doen nou vir eers ons aankope. Gisteroggend het almal wat by ons plaaslike apteek werk blykbaar maskertjies en handskoene gedra. My buurvrou vertel dat sy vanoggend ‘n oom met ‘n masker en geel skottelgoedhandskoene in Checkers se rakke gesien het. Dit voel so vreemd, mens wil eintlik foto’s neem daarvan. Maskertjies en handskoene het nog altyd vir my by China gepas. Alhoewel ons misdaad en korrupsie en ‘n swak ekonomie het, kon ons nog altyd spog met twee goed: baie sonskyn en baie vars lug.

In ‘n era wat die mens homself as so “almagtig” sien, is dit skrikwekkend dat ‘n virus die hele wêreld so tot stilstand kan ruk. Dis waarskynlik die nie-weet, wat vir ons almal so skrikwekkend is. Ons weet nie hoe dodelik dit regtig is nie. Ons weet nie hoeveel mense in ons land dit reeds het nie. Ons weet nie of ons huisgesin dit gaan kry nie. Indien ons dit kry weet ons nie hoe ons liggame daarop gaan reageer nie.

Ons weet eenvoudig nie.

Ons drink ons vitamines getrou en was ons hande gereeld. Ons bly by die huis. Ons gaan braai nie en ons gaan speel nie by maats nie. Maar ons gaan ook nie in vrees lewe nie. Ek het ‘n vers op die ou yskas in ons sitkamer geskryf. Amé het die engele geteken.

Dis waarop ons nou vertrou – op God as ons beskermer en geneser.


Intussen is daar goeie ook wat kom van Korona. Is dit ‘n hy of ‘n sy? Dit moet ‘n sy wees. Sy het my die geleentheid gebied om twee middae in ‘n ry na ‘n heerlike gekookte ete om ‘n tafel saam met my gesin, ‘n middagslapie te maak. Ons kon gister namiddag net voor die son sak met die kinders in die boorde agter ons kompleks gaan stap. Ons jaag nie tussen aktiwiteite rond nie. Ons spring nie 6-uur in die oggend teen ‘n wilde spoed weg om almal gereed te kry vir werk en skool nie. Ek pak nie saans drie kosblikke vir drie mense wat die wêreld moet in nie. Die ritme in ons huis is russstig. Ons praat stadiger, ons lag meer en ons is net “nicer” mense. Niemand hoef nêrens op ‘n spesifieke tyd te wees nie.

Dit is absoluut hemels. Netnou, hier skuins na 5 gaan ons ‘n braaivleisvuurtjie aansteek. (Manlief is normaalweg eers hier teen half 7 tuis. Dan kom sit hy aan die aandete tafel en daarna gaan sit hy die kinders in die bed.) Ons gaan op ons stoep sit en wyn drink. Rustig. Die kinders gaan kaart speel en teken en chips eet en baie lag. Ons gaan nie die horlosie dophou vir bedtoe gaan tyd nie. Want niks jaag ons nie.

Vir ‘n klein tydjie in 2020 is ons tyd ons eie. Ons vergeet om horlosies aan te sit. Ek het nie woorde om te beskryf hoe lekker dít is nie...

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep