Korona Dagboek - Dag 4
My Pofaddersussie se oudste noem dit die Macarona-virus.
Marietjie sê
haar kinders het die maskertjies op die nuus gesien. Toe wil Anmari en Andréa
opsluit ook sulke maskertjies hê. Sy het sommer sulke koddige
maskertjies uit koffiefilter papier met toutjies aan prakseer. Nou speel haar
kinders buite met die maskertjies aan.
Terwyl ons onlangs by my pa-hulle op die plaas kuier, gaan
lei ek die boompies in die begraafplaas nat. Die kinders gaan altyd saam. Die
begraafplaas op Makkiesplaas is ‘n lieflike speelplek vir die
Coetzee-kindertjies. Adriaan sit sommer so onder die peperboom in sy akkertjie
en speel in die water. Amé rankskik die potjies op die grafte en Daniël
maak die walletjies heel wat breek van die water. Dis altyd sulke lekker
geselstyd met die kinders. Ek vra versigtig wat hulle dink van die Koronavirus.
Daniël
antwoord na so ‘n rukkie - hy sal net nie wil doodgaan daaraan nie, want dit
sal nie vir hom lekker wees nie.
Ons het Donderdagmiddag op Millerton weggespring – oppad huistoe.
Die “lock down” het ons heeltemal onverwags gevang. Na ‘n salige halwe week in
die Boesmanland het dit amper begin voel asof korona net ‘n nare nagmerrie was.
Ons besluit om in Springbok te stop vir vars melk en brood, oppad terug. Teen
4h Donderdagmiddag staan mense reeds in lang rye voor Springbok se koswinkels.
Iewers in Springbok moes iemand gratis gesigmaskers uitdeel, want oral staan
mense met ligblou gesigmaskertjies op. Ons ry verby en hou styf duimvas vir
Kamieskroon. Die tannie daar wil verdag weet waar ons vandaan kom en waarheen
ons oppad is. Sy beduie dat daar groot padblokkades om middernag by Bitterfontein
opgestel gaan word. Ek verseker haar dat ons lank voor middernag by
Bitterfontein sal verby wees. Om middernag sal ons al salig in ons eie bed
wees.
Dis ons nuwe woord. LOCK DOWN.
Min jare gelede was LOAD SHEDDING die nuwe woord in ons
huishoudings en toe het ons gedink dit is DIE ergste wat met ons kan gebeur. Ek
dink baie keer – dis so ‘n groot genade dat ons nie in die toekoms kan sien
nie.
Gister het manlief ons voorraad in Checkers gaan aanvul. Ek
kon sien hy was nie opgewonde oor die uitstappie nie. Ek het die lysie baie
sorgvuldig gemaak. Ons sal nie weer hierdie week hoef dorp toe te gaan nie. Manlief
doen nooit inkopies nie. Dit neem dus 7 oproepe en baie tyd om deur my lysie te
werk. Toe hy tuiskom moet ek ‘n emmer Dettolwater aanmaak. Ek sien hoe hy
homself eers ordentlik Dettol. Daarna pak hy die inhoud van ons Checkers sakke
uit en vee alles eers mooitjies met ‘n Dettol lappie af. Toe gaan trek hy hom
skoon aan. (Manlief glo in – Liewer bang Jan as dooie Jan!)
Niemand weet immers waar Korona orals skuil nie.
Hoe som ‘n mens hierdie episode in ons almal se lewens op?
My Louise-vriendin beskryf dit so mooi as die stryd tussen gees en vlees. Die
een oomblik voel ek rustig: God is in beheer. Hy is groter as korona. Alles
gaan oraait wees. Hierdie tyd as gesin saam by die huis is kosbaar en dit gaan
lekker wees. Die volgende oomblik voel ek: Neeeeee!!!!!!!! Drie klein kindertjies
en ‘n jack russel en ‘n man wat van die huis af werk. Ek gaan dit nie maak nie.
Ek kan nie eens gaan draf om my kop nugter te hou nie.
Die stryd...
Ek mis draf. Ek mis koffiewinkel “take away” koffie. Ek mis
kerktoe gaan. Ek mis die voorreg om te kan kom en gaan soos ek wil. Ek mis
draairoomys op Sondagnammidae.
Maar, ek weet ook, ek durf nie dieselfde hier uitkom na
21dae nie. Dis tyd om regtig diep te delf in my eie lewe. Waarmee hou ek my
besig? Hoe lief het ek God règtig? Hoe goed ken ek my man en my
kinders se harte regtig? Ken ek myself nog en hou ek van wie ek is?
Intussen speel ons Monopoly en Rummy. Ons eet middagete soos
ek grootgeword het – ordentlike gekookte kos om die tafel. Namiddae speel ons
netbal en strand raket tennis met die kinders. Ons sit op die stoep en kyk hoe
die son ondergaan. Alles is stil rondom ons. Ons sien nie ander mense nie. Ons bid net vir ander mense - die wat reeds siek is, dat nie nog meer moet siek raak nie, dat mense se besighede sal oorleef.
Natuurlik gaan ons dikwels braai gedurende hierdie “lock
down.” Want nou het ons mos baie tyd vir braai! Staanribbes en stokbrode en
roosterkoeke en bros lieslappies.
So het elke donker wolk gewis ‘n silwer randjie!
Mens kan die lockdown oorleef
ReplyDelete