Genoeg
Hierdie naweek ontvang ons ‘n nota van die skool: Daar’s
weer kopluise in die rondte. Was maar jou kind se hare met die nodige sjampoe
ter voorkoming.
Sondagaand gaan dit weer lekker by die Coetzees. Ek bad die
drie sommer so saam. Een jaar later is ek al soos ‘n goed geoliede masjien
wanneer badtyd aanbreek. Soos sommige badtye maar verloop, is dié
een weer chaos. Die oudste twee baklei oor baba se oulike musiek instrument
waarmee mens in die bad kan speel. Baba probeer water uit die kraan drink. As
hy nie daarin slaag nie, probeer hy die
badprop uittrek. Oudste twee spat te wild in die water. Baba huil, want hy hou
nie van ‘n gespat nie.
Drie kinders is nie aan te bevele vir mense wat hou van
rustigheid en orde nie.
Toe almal klaar gebad is besef ek eers dat ek vergeet het
van die luis sjampoe (Dis ‘n vreeslike naam!!!). Ek verseker oudste dat ons die
volgende aand haar hare met die voorkomende sjampoe sal bykom, maar sy nie die nuus van haar ma se vergeetagtigheid baie goed nie.
Sy wil asseblief net nie luise hê. Hoe kry mens luise? Kan ek
asseblief mooi kyk of sy nie reeds luise het nie? So hou die gesprek nog vir ‘n
hele ruk lank aan. Ek vertel van my eerste en enigste ervaring met luise in Std.
2. Ek onthou dit soos gister. Dit het soos ‘n vreeslike skande op ons huis
gevoel. Ek dink my ma was amper vir ‘n naweek lank besig om my kop te ontsmet!
Maar dis moeilik vir ‘n koshuiskind om so ‘n epidemie vry te spring as
dit uitbreek in die skool?!
Toe Amé die volgende oggend groet vir skool noem ek sommer so
terloops dat sy nou nie met haar kop teenaan iemand moet sit vandag nie. Sodra
ons haar kop met die spesiale sjampoe gewas het, is sy veilig. Intussen moet sy
maar eers versigtig wees.
Toe ek haar na skool oplaai kan ek sien die gesiggie is
ietwat ontsteld. Ek wil dadelik weet wat pla. “Elana het sowaar met haar kop
teen myne gekap,” verduidelik sy vies. “Maar sy sê sy het regtig nie die koronavirus
nie mamma.”
Met alle slegte nuus rondom ons, verwar ons Gr.1’tjie toe
kopluise met die koronavirus!
Ek en manlief praat gisteraand sommer so oor die
kindertjies. “Hulle is net vreeslik moeg hierdie deel van die kwartaal. Ek dink
dis waarom hulle so bietjie kwaai is en nie heeltemal so gehoorsaam is nie,”
probeer ek verskonings soek vir ons kinders se swak gedrag van daardie dag.
Manlief antwoord doodeenvoudig dat hy nie kan onthou dat hy ooit in Sub.A moeg
was nie. Maar dan moet mens byvoeg – 20 jaar gelede was die lewe soveel
eenvoudiger.
Vandag moet kinders daagliks kompeteer teen hul ouers se
selfone vir aandag. Die dinge wat ons in die nuus hoor en waaroor ons om die etenstafel
praat lyk anders. Destyds was daar minder nare virusse, minder moord en
verkragting en bedrog.
Dis ons as ouers se verantwoordelikheid om die lewe steeds
‘n gelukkige, veilige plek vir ons kinders te maak. Ons huise behoort ‘n
stukkie oase te wees waar ons kinders net kan rus en wees. Ons behoort ons
kinders te beskerm teen ‘n prestasiegedrewe samelewing én toe te rus om eendag hier te
kan oorleef.
Ons beplan om hierdie jaar te begin kamp met ons drie besige
Coetzee kindertjies. Ons wil tent opslaan in die natuur, na aan die aarde. Ons
wil met min goeters gaan kamp en ons wil ons selfone afskakel. Ons wil mekaar
in die oë
kyk rondom ‘n braaivleisvuurtjie en sekermaak dat ons mekaar se harte hóór
Hou hierdie spasie dop. Sommer spoedig skryf ek oor ons
eerste kamp opslaan. Ek en Lambrecht wil aan die einde van hierdie jaar
terugkyk en sê:
Ons het genoeg op die stoep gesit en gekuier.
Ons het genoeg gelag.
Ons het genoeg gekamp.
Ons het genoeg na mekaar geluister.
Ons het genoeg gebid.
Mis julle diep baie
ReplyDelete