By wie sit jy?
Ons het elke Woensdagmiddag by tannie Driena gaan kuier. Dit was so 7km en vyf hekke ver. Kuiers by tannie Driena op Ramanskolk was altyd lekker. Tannie Driena was interessant en wys en kreatief agter die kospotte. Tannie Driena het vroeg in haar lewe al geleer dat die dorp ver sit. Soms moet mens reseppies noodgedwonge bietjie aanpas om dit te maak met dit wat jy wel het.
Ek onthou die karringmelkbeskuit met die pienk ondertoon nog baie goed. Tannie Driena se melk was te min. Dit het sy egter eers besef toe sy al goed aan die gang was met haar beskuit. Sy besluit toe om sommer van die “Strawberry” Sterrie Stumpy in die die yskas as plaasvervanger te gebruik. Ek onthou ook die tert met snye brood as kors omdat tannie Driena niks anders gehad het nie. Die lysie van interessanthede was eindeloos. O ja, daar was die sop waarin tannie Driena die vorige dag se geelrys met rosyntjies gegooi het. Tannie Driena het nie geduld dat daar met kos gemors word nie!
By tannie Driena het my ma geleer van bottels steriliser en gereed kry vir inlê. Tannie Driena het my ma geleer waarom haar vyekonfyt so vinnig sansuiker en haar ingelegde perskes ontplof.
Laterjare is ons skooltoe en kon ons nie meer so dikwels saam met my ma na tannie Driena gaan nie. Vakansies kon ons egter nie wag om die woensdagmiddae besoeke mee te maak nie.
Saterdagaand sit ek langs Lezanne in hul regte Engelse huisie in Spalding, noord van Londen. Ons kyk foto’tjies van haar eerste kwilts wat sy gemaak het. Sy is my ouderdom en het dié vaardigheid by haar skoonma geleer ongeveer so twee jaar gelede. Saam pak ons haar skoenbokse met stukkies lap uit. Ons droom waarmee ons pienk “cupcakes” sal knip en waarop ons dit sal werk. Ons blaai deur tydskrifte en vergaap ons aan alle mooi prentjie-stories op lap. Ons soek saam op die internet na die regte polkadot materiaal vir die tarentaaltjie kwilt wat sy vir hul dubbelbed wil maak.
Lezanne verduidelik hoe jy dit uitknip, vasplak, opstruik, vaswerk. Sy verduidelik watter soort materiaal jy moet gebruik en hoe besige prentjies op effekleure baie mooi werk.
Eersdaags gaan ek huistoe vir so klein bietjie. Ek kan nie wag om ‘n draai te gaan maak in een spesifieke materiaalwinkel naby die Somerset “Mall” nie. Ek kan nie wag om blokkies en polkadots en strepies en effekleure te gaan uitsnuffel vir prentjies maak met lap nie.
As ek terug is in Engeland sal ek na Lezanne gaan met my lappies…en ek sal by haar voete leer hoe mens maak. Net soos my ma destyds by tannie Driena se voete geleer het. Ek dink nie mens kan ooit te oud raak vir leer nie. Ek hoop inelkgeval nie so nie. Die Here het ons in so kleurvolle wêreld met soveel “detail” gesit. Die dinge wat ons kan leer is byna eindeloos.
Ek besluit Sondagoggend na my lapkuier met Lezanne dat ek myself gereeld moet uitdaag met die vraag: Wat is jy nóú besig om te leer by wie se voete. En dan sommer ook: Wie het die Here dalk nou by jou voete kom neersit wie jy moet leer.
Comments
Post a Comment