Wonderwerk in Afrikaans

Saterdagnamiddag toe dit begin kuiertyd raak, hunker my hart weer kwaai na die Suidpunt van Afrika. Ek het in die Boesmanland grootgeword met die gewoonte dat Saterdagaande uitgesit is vir kuier met die bure om die braaivleisvuur. Dit was nooit moeite om op ‘n Saterdagaand ongeveer tussen 20 en 50km te ry vir kuier by bure nie. Dan was daar gewoonlik nog ‘n heelpaar hekke ook oppad na die kuierplek.

Saterdagaande laat my daarom dink aan braaivleisvure wat hoog brand. Dit laat my dink aan die KWV-brandewyn wat my pa-hulle gedrink het en witwyn met baie ys wat vir my ma-hulle geskink is. As dit met ons goed gegaan het, kon ons kinders gaskoeldrank drink. In swaar tye moes ons tevrede wees met Oros. Daar is ook chips uitgegooi in sulke klein mandjies met wit servette. Saterdae was die enigste dag van die week wat ons toegelaat is om chips te eet.

Saterdagaande laat my dink aan my ma se mieliepaptert en haar heerlike selfgebakte broodjies. Saterdagaande laat my dink aan ‘n mooi gedekte tafel. Dit was altyd my werk. Ek het heel Saterdag beplan aan my tafel. Ek kon nooit te uitspattig gaan nie, maar ek was darem baie kreatief. In die middel van die tafel was gewoonlik halms gras uit die veld, of halms groenvoer uit my pa se akkers. Ek wou altyd so graag kerse ook brand aan die tafel, maar vir ‘n kers het my pa nie veel tyd nie. Hy sê dit maak net dat mens nie lekker kan sien wat jy eet nie!

In Engeland kuier mense nie by mekaar se huise op Saterdagaand nie. Hulle kry mekaar eerder by ‘n pub en eet en drink ietsie daar saam. Ek is dus sommer mismoedig en tranerig oor ek lus voel vir braai en Afrikaans praat – dis nou die Saterdag wat verby is.

Ek besluit om niggie Anneen in Londen te bel vir ‘n bietjie gesels, maar sy’s op ‘n trein en ons kan mekaar nie eens lekker hoor nie. Ek gooi dus later tou op. Iewers in die namiddag gaan stap ek ‘n draai en vertel die Here hoe behoefte ek het na kuier in Afrikaans.

Sondagmôre staan ek op met dieselfde Afrikaanslus in my maag. Net voor ons by die kerk instap, gewaar ek ‘n paartjie so skuins voor ons wat dadelik my aandag trek. Hulle praat nie met mekaar nie, maar die man se gesig lyk té veel na die van ‘n boerseun. In my hart weet ek net: Dié mense ken die soet smaak van Afrikaans op jou tong.

Ons stap net agter hulle in die kerk in, en in my agterkop smeek ek dat die Here vandag ‘n wonderwerk sal laat gebeur. My man kies toevallig die kerkbanke in die ry net voor die paartjie (Later vertel hy dat hy hulle regtig nie eens raakgesien het nie!). Ons het skaars gesit, of ek hoor hoe die man vir die vroutjie sê: “Dis darem gelukkkig nie vandag só koud nie.”

Ek het lanklaas só uitbundig opgewonde gevoel. Hoe ongelooflik groot en getrou is die Here!

Die twee Afrikaanspratende engele is toe Bernie en Lezanne van Lichtenburg. Ons gaan drink sommer saam ‘n koffietjie na kerk by die naaste tuinsentrum…en ons gesels ‘n hond-uit-‘n bos. Bernie vertel ons waar mens die lekkerste skaaptjoppies te koop kry teen ‘n bekostigbare prys. Hy vertel ook hoe hy biltong maak in hul agterplaas. Lezanne geniet naaldwerk en is knap met kwilts. Sy bied sommer dadelik aan om my touwys te maak.

Ons ry by die tuinssentrum weg en ek voel of ons tuisgekom het. Ons het Afrikaanse vriende ontmoet. Hulle ken Leon Schuster-grappe en hulle kyk rugby. Hulle hou van biltong en regte braaivleisvure met regte hout.

Ek kan nie wag dat hulle hier kom braai nie. Daar kom net niks naby Saterdagaandbraai in Afrikaans nie…al doen jy dit in Engeland. Dit voel mos ampertjies soos huis. Net op ‘n ander plek.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Skuinskoekstorie en resep

die Melktert