Oppad Boesmanland toe

My tassie staan al die afgelope week langs my bed, feitelik klaar gepak. Ek arriveer Maandagoggend op Kaapstad lughawe en klim die Interkaapbus Maandagaand. Dinsdagoggend voor die eerste haan kraai, sal ek in Pofadder arriveer.

Vir elkeen by die huis het ek ‘n spesiale geskenkie uitgesoek. My twee sussies s’n moes egter ekstra spesiaal wees. Ek het ten einde besluit op baie mooi, duursame krale vir elk. Wanneer hulle nou na my verlang kan hulle dit aansit. Marietjie s’n is verskillende kleure blou en baie stemming, net soos sy. Kleinsus Marli s’n is ‘n wille, uitbundige pers wat weer vir my in die kol was vir haar. Dan is daar nog die dogtertjierige slaapsokkies, die handeroom en sjokoladetjies.

Die uitbundigheid in my binneste het geen begin of einde nie. Elkeen se geskenkie het ek in lawwe polkadotpapier toegedraai. Behalwe my sussies s’n. Vir Marietjie en Marli het ek sulke sagtepienk feetjiepapier uitgekies.

Alle geskenkies is nou in, en die plek vir my klere lyk bra min. Ek kon myself nie gister keer in Morrisons nie. Saam met ons huis inkopies het ek sommer ook ‘n paar regte Engelse items gekoop – vir die Boesmanland. Dit sluit nou in Branston pickles, wat baie soos chutney is en héérlik saam met chedderkaas werk. Ook ‘n paar pakkies Pork scratching (Dis soos pakkies chips – dis net stukkies uitgebraaide vark spek) en stroopsoet caramel shortbread. Ek hoop nie enige van my kopies is dalk onwettig om
oor die landsgrens te neem nie, maar ek’s bereid om die kans te waag!

Marietjie het laat weet dat hulle slag. Ek het mos gesê ek soek geen ander kos as braaivleis nie. Saans braaivleis en smiddae koue braaivleis. Soggens sal van haar beskuit en vet beesbiltong die ding doen. Die spyskaart is dus uitgewerk vir my kuier.

Ook my pa het laat weet dat die biltongetjies mooi aan die droog word is. Hy glo ek sal my hart koel kan eet.

Ek wil ver ente in die veld gaan stap en op my knieë staan om die bossies rabbas op die grond te ruik. Ek wil saam met my pa veldtoe ry met ‘n bottel moerkoffie en help om die krippe met die geel besem skoon te maak.

Ek wil voor die houtstoof sit en lees met ‘n glasie wyn. Ek wil alles doen waarna ek die afgelope paar maande so opreg verlang.

Ek gaan natuurlik ook 'n draai gaan gooi by hartsmaatjies in die koue Boland...en ek twyfel nie vir 'n oomblik dat daar gelag sal word in oorvloed nie! Ek het die laaste paar maande geleer dat Afrikaans-lag anders lekker is as Engels-lag. Dis baie lekkerder!

En dan sal ek terugkom na Engeland met ‘n vol tas. ‘n Tas vol onthougoed om my deur die eerste donker koue van Engeland te dra. Hoe sê skoonpa so graag: “Die brandhout wat jou deur die winter dra.”

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep