Foto's vertel stories

Sit foto'tjies op FB. Parys in die somer is so nice. Dit bly mos tot laat lig. Ai,jy maak my lus om my foto-albums te gaan uitkrap & deur blaai vir 'n goeie trip af in memory lane.                                                                                                   Elmien de Kock Hanekom

Elmien se FB-boodskap laat my nog laat wakkerlê om te dink. Ons was die afgelope naweek Parys toe net vir die naweek. Ek wou nie gaan nie. Ek wou liewer tuisbly en geld spaar vir die huisie wat ons so graag iewers in die Boland wil koop as ons iewers in die toekoms terugkeer na Suid-Afrika. Ek was baie kwaai met my man oor Parys…want vir my was dit sommer net ‘n lekker geldmors-idee.

Ek moet bieg: Ek het my hart verloor op Parys. Al spaar ons nie hierdie maand ‘n enkele sent nie, het ek ‘n klomp nuwe foto’tjies vir my album.

                                     Parys -  ongeveer 21:30 Sondagaand.

Elmien se boodskap het my sommer laat wonder oor die foto’tjies in my eie album. As niks anders oorbly nie, het jy steeds foto’s. ‘n Foto’tjie is immers ‘n stukkie papier met ‘n hele storie daaragter. Dit vertel so baie van ‘n spesifieke hoofstuk in jou lewe.

Gisteraand sit ek styf teen my man en vra hom of hy dink ons maak genoeg foto’s. “Dink jy ons het te min foto’s in Frankryk geneem,” wou hy fronsend weet. Dit was nie wat ek bedoel het nie.
Ek wou weet of ons genoeg klein oomblikkies skep wat ons kan vasvang op ‘n foto en waarna ons later kan terugkyk en onthou, soos Elmien.

Soms is foto-oomblikke ‘n piekniek in die park. Of dis ‘n lekker braaitjie saam met vriende op ‘n Saterdagaand. Dikwels is dit ‘n kinderverjaarsdag vol laggende gesiggies, of een van jou kinders se baie spesiale eerstes…eerste treetjie, eerste skooldag, eerste sportwedstryd.

Hoe diep is jou kamera weggebêre en hoe vol is jou album?

Net voor ons gisteraand gaan slaap maak ek vir my en my man elkeen ‘n beker Horlics waaraan ons behaaglik drink terwyl dit buitekant sous en ons Parys foto’s kyk. Ons giggel saam oor die moedelose foto voor Parys se dieretuin. Ek en my man het gedag die Nasionale Musee de Naturelle Parys is Parys se Nasionale museum waarin ons meer van Parys se geskiedenis kan leer. Ons stap toe dus baie ver agter dié museum aan. Daar aangekom moes ons sien dis ‘n dieretuin…en ons moes bitter ver stap om daar te kom. Ek moes net die verslaendheid op my man se gesig afneem.

  Ek kon nie genoeg kry van hierdie supermarkie wat net om die draai van ons 
hotel was nie!
  
‘n Ander foto sit my man weer voor ‘n tafel wat gelaai is met croissants, kaas, botter en salami. Dis waarop ons geleef het in Frankryk. Uiteet was te duur en ons het dus eerder verkies om Frans te eet in ons hotelkamertjie!
Ons stapelvoedsel in Parys!

Dan is daar natuurlik ‘n reeks foto’s van ons by die Eifeltoring, onder hom, voor hom, langs hom, agter hom. Die Eifeltoring was ‘n groot oomblik!


Elke foto het vir ons ‘n spesiale betekenis. Elke foto bring ‘n warm gevoel iewers in jou maag. Soos Elmien tereg sê, dit vat jou down memory lane. En soms is dit ‘n baie goeie plek om te wees. ‘n Foto is nie die ware Jakob nie, maar dis darem bitter naby daaraan!

Comments

Popular posts from this blog

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep