Eerste vye in Augustus
Gister is dit vir die eerste keer in Engeland se somer regtig warm, heeldag. Ek trek na werk gou ‘n kortbroek en moulose hempie aan vir ver stap. Die son is so skerp dat ek selfs besluit om my sonbril op te sit. Ek moet natuurlik eers na die ding gaan soek. Die lug is gedurig so grou hier dat ‘n sonbril ‘n onnodige item geword het.
Ek besluit om die pad te stap na ‘n onbekende bestemming. Ek wou sommer net stap, sonder my selfoon, tot my bene moeg was. My uitstappie neem my toe heel onverwags op in ‘n baie nostalgiese reis.
Ek eindig uiteindelik op in Easton-on-the Hill. Dié dorpie herinner my onverwags aan Brandvlei, ‘n piepklein dorpie met net stofstrate in die Noord-Kaap. Ek kan my indink dat ‘n Engelse Brandvlei soos Easton-on-the Hill sou lyk!
Ek stap sommer so met die inkomslag in Easton-on-the Hill, verby ‘n bos rose wat na Bloemfontein ruik. Dan gewaar my reuksintuig iets wat kompleet ruik soos die boompies in tannie Lee se Boesmanlandtuin. Ek ruik ook iewers my ouma se blomtuin in Sterkstroom.
Dan stap ek verby ‘n vyeboom wat vol babavytjies sit.
Ek staan eers verstom. Ek het nie geweet dat Engeland ook van vye weet nie. En dan voel dit net nie reg dat die boom oortrek met vye sit in Juliemaand nie. Teen Augustus sal die eienaar van die boom stroopsoet vyekonfyt kan kook. Teen daardie tyd bot die boompies in ons vyetuintjie nog nie eers nie!
Vyebome vat my terug na Makkiesplaas op Sondagmiddae. Ons gesin sou dikwels as Sondagmiddaguitstappie ‘n bietjie na ons Vyeboomtuintjie, ongeveer so 2km van ons huis af, gaan kyk.
My ma sou gewoonlik kla oor die toestand van die tuin. Die onkruid was altyd te veel en die akkertjies te droog. My pa het weekliks belowe dat Hendrik hiérdie week meer tyd tussen die vye sou spandeer.
Vyepluk was nog altyd een van die grootste lekkertes in die lewe. My pa sou kom vertel van die eerste ryp vye. Hy sou selfs ‘n paartjies in sy kêppie saambring sodat ons daaraan kon proe. My ma was mal oor ‘n vars vytjie. Met die kêppie vol vars vye op die kombuistafel, sou my pa vir elkeen ‘n vytjie uitsoek en dan met sy rooi knipmessie vir ons afskil.
Na die proe sessie sou die heel gesin gaan vye oes. Dan begin die konfytkook. My ma het so reusagtige vetmaag kastrol gehad waarin dit gekook is. Ons vye is nooit geskil vir die kokery nie. My ma was nie skaam om te erken dat sy ‘n lui konfytkoker is nie.
Ek onthou hoe ons bottels moes help soek het vir elke kookslag. Dit was my voorreg om die “labels” met die naam en datum daarop te skryf. Dié het ek altyd met groot deeglikheid gedoen.
“Griet se vyekonfyt 2008,” was die laaste konyt wat my ma sou kook.
My pa mag maar vyekonfyt eet. Hy smeer ‘n roosterkoek met dik geel botter, hompe vye en kaas dat jou mond eintlik water as jy daarna kyk. Ek twyfel egter of hy die laaste bottel of twee in die kas met dieselfde oordadigheid sal eet as in die verlede.
Daar sal nie meer nuwe bottels uit my ma se hand in die inlê kas wees nie. Daar is nou nog net stroopsoet vy herinneringe oor.
Comments
Post a Comment