Clicks se lekker Kersboekies

Ek was nog nooit skaam om te vertel dat ek 'n produk van die Boesmanland is nie, dat my Pa en Ma iewers tussen Pofadder, Brandvlei en Kakamas 'n lewe gemaak het met 'n klein plasie en drie meisiekinders. Want op Makkiesplaas was daar net altyd oorvloed, en dit het niks met aardse goed te doen nie.

Ek dink anderdag aan Kerstyd toe ek nog 'n sproetgesig haasbekkie was. Dit was nou die tyd voor almal selfone gehad het. Groot flat screens, i-pads, en labtops was nog 'n belofte in die toekoms. Almal het die Kennis-reeks in hul boekrak gehad en google moes nog ontdek word. Of dalk was dit al, maar ons huis het nie eens 'n rekenaar gehad nie. Rekenaars en baksteengrootte selfone was vir ryk mense. Ons piepklein oranje televisie was net swart-en-wit en meeste van die tyd was die sneeu daarop so kwaai dat jy nie seker was waarna jy gekyk het nie.

Hier vroeg Desember stuur winkels mos altyd boekies uit met al hulle Kersgeskenke vir die seisoen. Clicks en Shoprite sin was altyd die beste. Ons kon beurte kry om in daardie boekies te merk wat ons harte begeer vir Kerstyd. By jou merk moes jy ook jou voorletter sit, vir ingeval daar dalk verwarring kon ontstaan. Daardie gemerkery was die lekkerste lekker. Ek raak steeds opgewonde as ek vandag 'n Clicks-boekie sien.

My ma het vir ons 'n adventkalender van vuurhoutjieboksies gemaak. Ek en Marietjie moes dan elke oggend beurte maak om 'n boksie oop te trek vir 'n lekkergoed verrassing. So saam met die aftel Kersfees toe, het ons ook die dae afgetel na ons Upington uitstappie vir Kersinkopies. Daai was groot bederf.

Ons het altyd ons mooiste dorpsklere aangetrek vir die eenjaarlikse geleentheid. Plaaskinders het mos plaasklere, dorpsklere en kerkklere. Ons klerekaste was eintlik vreeslik gekompliseerd, want jy durf nie jou geleentheidsklere vermeng het nie! Inelkgeval, ons sou al dou-voor-dag in die pad val van die plaas af. My ma het sommer maar altyd padbroodjies gemaak vir die trippie.

Ons het die winkels in Upington oopgemaak daardie dag. Dan is my ma met 'n kind in elke hand die winkels in. Dit was nou voor laatlam Marli nog bestaan het. Nou omdat daar nog nie selfone was daardie tyd nie, het my pa en ma altyd 'n tyd afgespreek wanneer hulle mekaar voor Checkers sal kry vir die finale inkopies van die dag: Kos. En elke liewe jaar was dit dieselfde storie. My ma was 'n vinnige vrou, en my pa 'n diep rustige man. Sy was dus altyd ten minste 10 minute voor die afgespreekte tyd op die afgespreekte plek, want sy wou nooit my pa ophou nie. Hy wou my ma weer meer inkopietyd gun as afgespreek, en was altyd ongeveer so halfuur laat op hul afgespreekte tyd. Teen daardie tyd was ek en Marietjie al voetseer gehang aan my ma se hand, en my ma verby woedend vir my pa.

Elke jaar.

Selfone het baie vrede in hul huwelik gebring. My ma was steeds vinnig en my pa stadig. Hulle kon die situasie nou net soveel beter bestuur!

Na so dag sou ons eers vinnig by tannie Elsa-hulle in Steenboklaan gaan stop vir koffie en vinnig kuier. Ons vrek mos oor ons Upingtonniggies. As ons daar wegry, het ons by King Pie gaan stop vir King Pies. Ons het altyd dieselfde bestel: Hoender mushroom vir my, ham-en-kaas vir my ma en Marietjie en steak-en kidney vir my pa. Dit was ongetwyfeld deel van die lekker van die dag!

Kersgeskenke was nooit groot nie, maar dit was altyd spesiaal. Ek het nou nog die blou beker met die dansende poppie daarop wat Marietjie my een jaar gegee het. Ek het daardie jaar vir haar 'n soortgelyke gele gegee. Ons het dit nog in die Clicks-boekie gemerk. Daai beker het my deur universiteit geneem. En vandag as ek keelvol is, maak ek vir myself 'n ordentlike beker koffie in my gunsteling Clicks-beker.

Kersfees op Makkiesplaas het oor Jesus gegaan. Daar was nie liggies en winkels en malls en kersmusiek wat oor en oor gespeel is nie. Dis tog jammer dat alles so verander het. Vandag vertel winkels dat daar genoeg geskenke, liggies, rooi en mooigoed moet wees.

En eintlik moet dit maar net oor Koning Jesus gaan...

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep