Elke huis kort 'n kersboom

Marli se whatsapp biep gisteraand. Hulle Kersboom is op. Met 'n foto. Dis regtig 'n besonderse boom van houtplankies. Hier en daar is seegroen strepe. Bo-aan die boom hang die allerlieflikste hout engel met 'n groot rooi hart.  Die versierings is mooi woorde. Marietjie se Kersboomfoto het al die 1ste Desember deurgebiep. Hare is meer eenvoudig met rooi en wit kant en lint strikkies as versiering. Haar boom pronk ook met 'n indrukwekkende engel bo-aan die boom.

Ons Kersboom was altyd van daardie tradisionele groenetjies. Ons Kersversierings was oor die jare versamel, en daar was selfs so vet Kersvader wat nog uit my ma se kinderdae dateer het. Kersboom opslaan was altyd 'n groot geleentheid waarna ons weke kon uitsien. Die Kersboom was in die middelste deur van die ingeboude kas in my ma-hulle se kamer. Hy was altyd sorgvuldig toegemaak met swartsakke. Die versierings was in 'n klein boksie saam met hom in daardie kas.

Etlike dae vooraf sou ek en Marietjie die slapies begin aftel na die groot dag. Dan is die Kersversierings baie akuraat tussen ons verdeel. Of ons kon beurte maak om te kies totdat alles op was. Soos gebruiklik kon ek, die oudste, eerste begin kies. My eerste keuse was altyd die engel bo-aan die boom. Dis mos so half die belangrikste plek aan die boom: Die engel.

Die Kersliggies was altyd so half krisis. Soms wou die gekleurde liggies nie brand nie. Dan het my pa die bos liggies so paar maal geskud met die hoop dat dit die probleem sou oplos. Wanneer dit uiteindelike gebrand het, wou dit byna nooit flikker nie.

Saans sou ons vir so klein bietjie alle ligte in die huis afsit om na die liggies te kyk. Hoogtepunt. Ek's vandag nog kinderlik opgewonde oor 'n liggie. Kersboomliggies, kersliggies in die strate in Desember, stadsliggies as jy 'n mooi uitsig het.

Een jaar wou my ma iets anders doen. Sy was moeg vir ons kersboom. My pa het altyd so senuagtig geraak as my ma met haar idees kom. Dit het byna altyd vir hom werk beteken. Daardie jaar moes dit 'n doringboom wat droog is en omgeval het uit die veld wees. My pa moes soek en dit bring. Dit was eers 'n enorme taak om 'n emmer groot genoeg vol sand te maak wat die boom voldoende sou kon stut. Ons boom was ontsagtelik groot. Ons versierings het min gelyk aan die boom wat aan die plafon geraak het. Dit het byna 'n hele werksmag gekos om die boom in die sitkamer te kry. Dit was geweldig indrukwekkend, 'n kom-kyk boom. Kinders wat kom kuier het kon die skouspel in ons Makkiesplaashuis byna nie glo nie.

Toe besef ons een mooi oggend die boom het kewers in, en hy staan langs ons klavier. Dit het vir 'n oomblik histerie veroorsaak. My ma het met 'n bottel Doom in die spulletjie ingevaar. Ons grootste vrees was dat die kewers in ons klavier sal invaar. Die boom het darem Kersoggend gemaak voor dit met 'n groot gesukkel verwyder is. My pa het doodstil gebly, maar my ma was 'n intellegente vrou en het geweet...dit was die laaste kersboom uit die veld. Die heel laaste een.

Ek worstel hierdie jaar oor ons kersboom. Ek sien jy koop die standaard groenetjies vir R25 by die Chinese op special. EK soek egter iets anders. Iets meer besonders met betekenis. Ons kersversierings is ook 'n versameling van oral waar ek kom. Ek het die mooistes nog in Engeland gekoop. Ek koop 'n stel wit liggies, want in my lewe het ek genoeg van gekleurdes gehad. Ek maak so eenvoudig kontraksie van my versameling houtlepels met engeltjies aan. Dit klink vreemd, want dit was vreemd, maar dit was die enigste hangplek waaraan my berin kon dink. Met liggies. Ons meisiekind hou daarvan. Sy verstaan inelkgeval nog nie van regte kersbome nie.

Volgende jaar sal ek vroegtydig begin beplan en mooigoed op Pinterest soek. Volgende jaar sal die Coetzees ook 'n mooi kersboom met spesiale betekenis en wit liggies in hul sitkamer geniet. Kerstyd hoort daar 'n boom in elke huis. Nelia se mooi plaashuis het sommer twee. En haar kinders moet sekerlik hierdie Desember die gelukkigste kinders wees!

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep