Vandag ‘n week terug, het ons van Ouma
afskeid geneem in Sterkstroom se kerk en begraafplaas. Die dag was skoon en
mooi. Langs die graf kon mens die groen en berge ver sien. Die mooi van die
natuur het iets diep binne mens kom roer. Dit was altyd net wondermooi.
Vanoggend was dit wondermooi en diep hartseer. Ouma se kis het gesak en almal
kon vir oulaas lavender blommetjies op haar kis gooi. Elkeen het op sy manier
totsiens gesê. Ouma se alle bure was daar, al haar kinders en kleinkinders en
agterkleinkinders. Haar haarkapper was daar, en so ook haar huishulp en
tuinman. Die swartvrou wat elke dag verby Ouma se huis gestap het met die
oulike vet dogtertjie waarvoor Ouma graag lekkergoed gegee het, was ook daar.
Almal was daar vir oulaas saam afskeid neem.
Ons het die Saterdag op Sterkstroom
arriveer – eerste van alle familie. Tannie Sandra het my saamgeneem om vir
Laddie en Ounooi kos te gee. Hierdie twee honde van Ouma moes nou al vermoed
iets is verkeerd.
Ek het daardie Saterdagagtermiddag tyd
gehad om Ouma goed te groet. Haar klein roosbekertjie waarin ons altyd vir haar
sterk tee (Sy het altyd gesê sy hou nie van tee wat soos piepietjies lyk nie)
of Milo moes maak. Op haar eetkamertafel was foto’s van haar kleinkinders, haar
inkopielysie en ‘n pienk lipstiffie. Ouma het gehou van ‘n ordentlike pienk
lipstif. En sy het so baie daarvan gehad. Daar was een vir elkeen van haar
honderde handsakkies.
Oor soetgoed was Ouma ook gaande. Sy was ‘n
suikerlyer en nie veronderstel om haarself so te vergryp aan al wat soet is
nie. Tog was daar, volgens tannie Sandra, ‘n lekkergoedjie in byne elke blikkie
of hol ding waarin Ouma iets soets kon druk. Ek onthou maar alte goed die
geritsel van lekkergoedpapiere saans, na ons ligte al af was tydens ons laaste
kuier by Ouma. Sy het dan sowaar lê en lekkergoed eet in die bed!
Ouma se huis was altyd onberispelik
netjies. My huis is ook altyd op die oppervlak baie georden, maar ek kan niks
waarborg as jy ‘n laai of kas oopmaak nie.
Wat die oog nie sien nie…
Jy kan egter enige laai of kas in Ouma se
huis oopmaak, en die inhoud daarvan is in netjiese stapeltjies en hopies. Alles
is presies op mekaar. Niks lê ‘n millimeter uit sy plek nie. Ek druk my neus
vir oulaas in Ouma se netjiese kaste met klere om haar daarbinne te ruik. Ouma
het altyd so lekker geruik. Haar reuk is nog haar kas vol. Daar is vreemd troos
in die reuk van ‘n geliefde terwyl dit nog ‘n vertrek volmaak.
Die namiddag na Ouma se begrafnis, neem ons
afskeid van Sterkstroom. Ons stap al Ouma se gunsteling winkels om. Eers maak
ons ‘n stop by Pep Stores. Hulle sal Ouma mis. Sy was amper daagliks daar. Ons gaan koop sigarette vir
Stan by Awiwa. Hier het Ouma ook gereeld gekom vir roomys of sommer net
geselskap. Ons hoor selfs die Chinese op die dorp verstaan dat Ouma dood is en
hulle is ook hartseer. Ouma was een van hul gerekende kliënte. By Ouma se huisie besluit ons om in die
sitkamer te gaan tee drink. Ons was nooit in daardie sitkamer toegelaat nie.
Dit was die dominee se sitkamer. Nou wou ons darem vir oulaas daar tee drink om
te voel hoe dit voel. Voor haar huisie ontruim word. Die porseleinhond onder
die koffietafel bly steeds vir my een van die vreemdste tierlantyntjies in Ouma
se huis. En daar was so baie daarvan!
Ons sal seker nooit weer in Sterkstroom kom
nie, dink ek weemoedig toe ons Dinsdagmôre op die stofstraat uit die hoofstraat
draai. Nog ‘n hoofstuk wat afsluit. Maar ek is vrede, want ek kon vir oulaas
bietjie op Ouma se bed sit en haar voel in haar aardse koninkryk. Nou is sy weg
na die beter bestemming.
Comments
Post a Comment