Laatnag uitstappie Engen toe
Kleinsus Marli en haar liefde, Steyn, kom
kuier vir amper ‘n week hier in ons klein dorpshuisie in die Paarl. Hulle is
ongetroud, kinderloos, kommervry. Dis seker waarom ek so senuagtig voel oor die
week, besluit ek die oggend voor hul aankoms. Buitendien is Steyn vlaktes
gewoond waar hy baie naby aan Pofadder boer. Ons huis is van so aard dat ons
die bure se letterlik elke beweging kan sien en hoor. En hulle ons sin.
Ek maak nooit praatjies met ons bure nie.
Ons kind kry tande en sy is snags moeilik. Ek is so bang hulle praat my eendag
aan oor ons kind.
Dinsdagaand kuier ek te heerlik met die
twee duifies. Amé gaan slaap soet soos ‘n engel. Sy maak my wakker skuins na
half een. Ek probeer sag beweeg. Ek probeer haar in ‘n liefdevolle fluisterstem
maan om tog groot asseblief verder te slaap. Steyn probeer immers slaap in die
kamer regs langs haar, en ek en Marli deel ‘n dubbelbed regoor haar kamer.
Lambrecht is nie tuis nie, en daarom kan kleinsus sommer by my in die bed
slaap.
Sy hou nie op met kla nie. Inteendeel. Dan
trek ek my oë kwaai en fluister in ‘n kwaai stem dat sy regtig nou moet slaap.
Sy glimlag so breed dat die honey dummy uit haar mond val terwyl sy met haar
tone begin speel.
Sy lag seker vir haar desperate ma wat in
‘n blou strepiesnagrok, erg deur die slaap, met wilde hare staan en smeek.
Sowat ‘n uur later, is ek buite myself van frustrasie. “Kind, wat de hel gaan
met jou aan,” hoor ek my stem nou sommer hard praat. Ek moet asemhaal en
ontspan. Tannie Stef het mos gesê jy moet jou skouers terugtrek en met ‘n
rustige stem praat. Dis moeilik as jy meer histeries as rustig voel. Al wat ek
wil doen is slaap. Amé is nie nat of honger nie. Sy het nie koors nie. Sy is
net eenvoudig nie lus vir verder slaap nie.
Desperaat gaan trek ek my oranje oefenhempie
en swart drafbroekie aan. Ek sal haar aan die slaap ry, dink my half-deur-die
slaap verstand. Ek skakel die motor aan en sien my brandstofliggie flikker.
Engen toe, registreer iets in my. Terwyl
Simon brandstof ingooi, loop ek met my kaalvoete en staanhare na die kafee. Ek
sien Simon en die moeë vroutjie agter die till kyk my snaaks aan. Ek gee nie
eens om nie. Ek bestel ‘n soet hot chocolate. Dan terug motor toe. In die
tussentyd het Amé haar dummy verloor en sy is woedend oor die stand van sake. Sy
skree alweer soos iemand wat iets aan gedoen word. Ek soek paniekerig na die
dummy. Later probeer ek myself kliphard kalmeer. Ek sien Simon dink ek’s die kluts
kwyt. Ek kry die dummy aan my passasierskant. Sy moes dit ver slinger om dit
daar te kry.
Ons trek uiteindelik weg. Ek kies sommer
koers na Paarl se hoofstraat. Dis net ek en AC Rotweilers Security daardie tyd
van die oggend in die Paarl. Ek luister na gospelmusiek oor die radio. Dit help
nie. Ek dink aan die artikel oor Minki en fraaie Katerien in die Lig. Sy is ‘n
modelmamma. Sy bid so baie vir Katerien. Haar grootste doelwit vir die nuwe
jaar is om ‘n goeie Mamma te wees, volgens die artikel.
Katerien sny seker nog nie tande nie,
besluit ek. Lig moet weer ‘n artikel doen as Katerien haar eerste twee tande
kan wys. Mens voel nie lus vir dink of bid of jou kind daai tyd van die nag
nie. Jou hele wese wil slaap.
Ons stop tuis, en Amé slaap. Ek prys die
Here vir Sy goedheid. Ek laai haar versigtig uit. En toe ons deur die voordeur
stap gaan haar ogies wyd oop en sy gee my een van haar grootste glimlagte.
My moed sak sommer weg in my skoene. Amé
raak ten einde 4-uur daardie oggend aan die slaap. Toe is my fut totaal uit. Ek
raak die volgende oggend wakker, naar van moegheid. Dan voel ek die klein
babalyfie hier in my regterarm en sien hoe lekker sy slaap.
Ek was nie gisternag so mal oor haar nie,
maar sy bly darem maar vrek oulik as sy slaap, besluit ek.
Comments
Post a Comment