Ons eerste vlug

Ek kan liries raak oor 'n lughawe. Soms vra ek met my mooiste smeek stem vir my man of ons nie net 'n bietjie daar kan gaan rondloop nie. Ek wil net deel raak van die ongelooflike "lughawe atmosfeer." Gisteraand kon ek nie 'n oog toemaak nie, want vandag was my eerste vlug as 'n mamma.

Haar blommetjiesdoekesak was met millitaristiese presiesheid gepak vir die vlug. ID en kaartjies waar ek dit die maklikste sal kry, provitas en piesang in die kantsak vir 'n krisis, beursie en selfoon op 'n plek waar ek net kan vat, 'n tennisbal en "Jemima puddleduck" vir kou op die vlug en haar tweede dummy bo-op.

Tydens die inboek van ons bagasie, land ons agter 'n geselskap Chinese. Hulle is mal oor ons dogtertjie en sy is mal oor hulle. Sy lag oopmond terwyl hulle in Chinees "peek a boo" met haar speel. Dan wil sy die ronde Chinees in die rooi t-hemp en bril nie uitlos nie, en sy rem amper my arm af om hom agterna te kyk. Ek byt op my onderlip en kry die kind weer onder beheer.

Sekere rituele op 'n lughawe sal ek beslis nie inboet bloot omdat ek nou 'n moeder is nie, besluit ek hardkoppig. Ek gaan kry 'n koffieplekkie vir my gebruiklike cuppucino en koerant. Dis iets wat almal op die lughawe doen. Dis deel van die ervaring. Ons poplap kry provitas om aan te knippel. Die vrede hou nie lank nie. Ek kry darem die voorbladartikel oor Madiba klaar gelees. My cuppucino sluk ek sommer so in die loop af - oppad na die babas se badkamer.

Ons liefling is erg sosiaal en soek elke geleentheid om oogkontak te maak en te glimlag. In die bus oppad na ons vliegtuig, maak sy vriende met 'n skaam boetie en sussie wat by familie in Marydale gaan kuier. Ek dink die tienermaatjie is vir haar te interessant met haar knel oranje naellak en groot geelraam sonbril. 'n Baie, baie gawe ouerige man is ons engel vir die dag. Hy dra die blommetjiesdoekesak vliegtuig toe, toe hy sien my hande raak te min vir ons kind en al haar bagasie. Hy bied aan om sitplekke te ruil omdat hy alleen op twee sitplekke sit, terwyl ons twee ingedruk sit op 'n enkel sitplek by die ruit. Ons sonstraal kan haar geluk nie glo nie. 'n Vliegtuig vol mense waarmee jy kan gesels en glimlag.

Ek het my voorberei op 'n rustige vlug waartydens ek sal koerant lees en behaaglik teug aan koffie wyl ons dogtertjie rustig op my skoot slaap. Mens moet nooit te veel verwagtinge koester met kinders nie...

Ons kindjie sit vir 90 minute lank nie 'n volle 5 sekondes lank stil nie. Sy kyk rond, gesels, wip op-en-af op my skoot. Later raak sy moeg en onplesierig. Die boetie en sussie sit voor ons op die vliegtuig en trek vir haar gesigte om haar besig te hou. Genadiglik fassineer dit haar geweldig.

Ek vrek oor vliegtuig kos. Vandag moes ek alles nee dankie wuif. Ek kon darem 'n Ceres sappie vervaard afgesluk kry terwyl ons dogtertjie my koerant verwoes. Die einste koerant waarna ek so uitgesien het om te lees.

En toe raak sy aan die slaap terwyl ons land. Rustig en tevrede. Ek maak haar wakker om uit te klim. Die hele gesiggie wys dat sy ontevrede is. Dan kap ek haar koppie perongeluk hard met die opstaanslag en sy gil asof dit oordeelsdag is. Ons kom natgesweet by "arrivals"aan, want dis nie 'n grap om met 'n baba te vlieg nie.

Maar lughawe en vlieg bly diep lekker. Met of sonder 'n kind.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep