Posts

Oor oordeel en balletskoene

Dis Woensdagmiddag 13:00 en ek en die kindertjies is doodmoeg en honger na die skooldag. Ek neem ‘n waaghalsige besluit om net VINNIG by ‘n winkel in te glip oppad huistoe. Die kinders klim alreeds te stadig uit die motor na my sin. Dani ë l weier om uit te klim as hy nie eers sy Crazy Store sonbril kan opsit nie. Am é wil opsluit m è t haar balletklere aan winkel toe gaan. Ons drie is ‘n koddige prentjie, kan ek myself nou indink. Ek voor met my diep frons, dan ons ballerinatjie en dan haar boetie wat soos iets uit die mafia lyk. Ek jaag hulle heelpad winkel toe soos skapies aan. In die winkel is hul lysie langer as myne. Ek handel die inkopies binne ‘n oogwink af. Nou moet ons drie terug suiker motor toe. Albei kinders met ‘n sappie in die een hand en ‘n kasie in die ander. Nou wil Dani ë l ook nie meer sy bril dra nie, want hy kan nie lekker sien wat hy eet of drink nie. Am é se balletskoene pla haar en ons moet dit eers uittrek. Daar op die sypaadjie. Ek gebruik my he...

Spog storie

Image
Kleine George maak Donderdag sy opwagting en die Millers hou hul asems op. Dis immers die eerste boetiebaba in hulle familie. Anmari en Andréa tel ook die slapies na hul boetie se koms. Ek praat gisteraand met my kleinste sussie wat tans die grootste is. Nee, haar lyf voel nou nie meer lekker nie. Daar lê al die laaste twee dae knippies op haar badkamer vloer wat sy net nie kan bykom nie. Dis ‘n taak en ‘n half om iets op die vloer by te kom oor haar maag. Sy was maar besig hierdie twee weke wat verby is. Sy het vier baksels koekies gebak en mooi in glasflesse verpak om vir mense te gee as dankie geskenkies. Dit was egter smiddae so warm dat sy maar voor die waterverkoeler op hul bed gesit het om die koekies op mekaar te plak. Dit was die koelste plek in hul Boesmanland huis. Ek wonder hardop waarom sy nie maar sjokolade kon koop met ‘n mooi lint om, soos normale mense maak nie. My flukse hoogswanger sus lag my opmerking af. O ja, en dan het sy nog vir haar dogtertjies e...

hoop

Baie dinge kan in ‘n week se tyd verander, besef ek net die afgelope week weer. Iewers het ek tred met dag en datum verloor. Alles gebeur in ‘n ritme op ‘n tydlyn. Ek kan die kolletjies onthou en verbind, en dis dit. Baie seisoene gelede het dit my ontstel as ek nie gereeld die nuusberig op RSG hoor nie, of as ek die Saterdag se Burger misloop. Nou pla dit my eerder dat daar kindertjies honger gaan slaap, of dat mense se tuine baldadig groen is al het hulle boorgatwater – want water bly water. En dis iets wat jy nou met die grootste respek moet gebruik en verbruik! Ek praat gewoonlik op Sondae aande met my pa. Met ons laaste gesprek klink my pa maar moedeloos. Dit bly droog. Hy moet water aanry na Korannerkolk. Die probleme hou nie op nie. Ek vra nie meer uit of die skape vrek nie. Ek weet hulle doen. Ek wil dit net liewers nie hoor nie. Verlede week kom die nuus uit die Boesmanland – dit het gereën. Oppad terug van bybelstudie het die water so dik oor die pad geloop dat my pa...

Stoepdans 2018

Ons besluit op die laaste nippertjie om ‘n dag langer op Millerton te bly as beplan. Mens mis nie graag uit op ‘n Millerton stoepdans nie. Saterdagnamiddag skuins voor 6 arriveer die eerste gaste. Almal is in hul netjiese nuwejaarsklere vir die stoepdans en bring-en-braai op Stan en Marietjie se plaaswerf. Die bure het sommer saam besluit om die jaar so af te sluit. My Marietjie-sus se lyf is ook al ‘n ongemaklike 30 weke ver swanger en sy verkies om eerder by haar huis te partytjie as elders. Almal bring hul eie vleis en drankies. Dit lyk aansienlik anders wanneer vleisprodusente bring-en-braai as by ons in die dorp. Hulle tel nie tjoppies per kop nie. Hulle pak ‘n braaipan taamlik vol. Vleis is daar altyd in absolute oordaad. Sarien en Jaco bied aan om die brood vir die aand te behartig. Sarien klim af met twee van daardie groot, ronde tupperware bakke wat mens kry – vol deeg. Om die kersie op die koek te sit het sy tuisgemaakte botter vir die roosterkoek. Botter wat sy self...

Nabetragting oor 2017

My lewe was aan die einde van hierdie jaar buite beheer – of so het dit gevoel. Daar moes te veel dinge op een slag gebeur, en daar was eenvoudig te min tyd. Dalk voel almal so in Desember. Ek het te veel gekla oor dinge waaroor ek nie wéér wil kla nie. Ek het te veel geëet van goed wat nie goed is vir my lyf nie. Ek het myself te veel  vergelyk met ander se perfekte facebook lewens. Ek het te min gelees. Ek het te min gebid. Ek het te min op die stoep gesit en luister na ons kinders se geselsies en sommer net gedagdroom. Ek het heeltemal te min gelag dat die trane loop. Toe ek twee weke gelede op Makkiesplaas arriveer, was ek soos iemand wat se ruite toe gewasem is. Jy weet mos hoe moeilik dit is om op ‘n wintersoggend deur jou ruit te sien as dit gewasem het. Die wêreld is ‘n onsigbare raaisel. Ek was dáár, absoluut vuisvoos gelewe aan 2017. Dis twee weke later en die uitsig deur my ruit is prentjie mooi. Ek sien weer. Ek het intussen ‘n paar oggende afgeskop met mel...

Hoop in die droogte

My pa boer van altyd af in die Boesmanland. Hy is gebore op Makkiesplaas. Sy grootjies en sy pa en my ma se grafte lê almal in die familie begraafplaas. Soms vra ek of dit die moeitewerd is om hier aan te gaan? Die Boesmanland is ‘n harde wêreld. Dan antwoord my pa – “Dis dan al wat ek ken my kind, waarheen sal ek anders gaan?” Ek praat gisteraand weer met my pa oor die foon. Ek vra altyd oor die veld en die skape. Die Boesmanland stof is immers ook in my bloed. Die laaste tyd raak die stories amper vir my te erg om te hoor. Skape wat die bakkie byna bestorm omdat hulle weet dis kos. My pa sê dis die laaste tyd ‘n gesukkel om sy bakkie se deur oop te kry. Die skape “omsingel” amper die bakkie. Hy vertel van die droogtelammertjies wat vrek omdat die mamma hulle eenvoudig wegsmyt. Hy kan nie meer die skape vol kry nie, daar is eenvoudig nie genoeg voer nie. Hy hou hulle net aan die lewe. My pa is ‘n groot man, maar hy sê hierdie droogte laat hom huil soos ‘n kind. Anderdag kom h...

Die draadwerkersdieet

’n Wonderlike week in die winter gaan vertoef ons in Makkiesplaas se Veldhuisie. Hierdie lappie heilige grond waar daar nog geen google of DSTV of Facebook is nie. My pa verduidelik op watter hoogtetjie mens kan klim vir MTN-opvangs. Ons stap draaie om daardie hoogtetjie. Saans maak ons donkievuur en vroegaand sit en kuier ons om die gaslamp. Net ek en my man en ons kindertjies. Die Boesmanland raak koud in die winter – daardie tipe koue wat sny deur jou gebeendere! Ek gaan met die beste intensies op vakansie. Die oggende is ongelukkig vriesend koud. Letterlik. Die kripwater en soms selfs die water in die pype is kliphard vasgevries. Wie draf in sulke koue?! Ek besluit vooraf dat ek eenvoudige kos gaan saamneem Veldhuisie toe; nie ‘n enkele slaaiblaar of pit of saad of iets in die kategorie nie. Die beste wat ek doen is naartjies, rosyne, patats, dadels en wortels. Die bederf mos nie so maklik nie. Saans sal ons braai en ‘n vorm van brood daarby maak. Ek neem genoeg ordentlike...