Die ding van geloof



Faith grows in the shadow of darkness.

 Diè eenvoudige sinnetjie haal Danny, my nuwe baas, Maandag tydens ‘n vergadering aan. Dit kom sit vas iewers tussen hart en verstand en werk heelweek met my gestel.

 Geloof is ‘n anderster ding.

 Omdat Noag geglo het, was hy bereid om ‘n skip op droë grond te bou. Die Here hèt mos gesê die stormwaters sal kom.Omdat Abraham bly glo het, al was Sara oud en onvrugbaar, het die Here hulle hulle geseën met ‘n babatjie. Omdat Moses geglo het, is hy die woestyn in met ‘n klomp Israeliete, oppad na die beloofde land. Omdat Dawid geglo het, het hy kans gesien vir Goliat. Omdat Josef bly glo het, het God hom in ereplek in Egipte gegee. Die storie van die bybel bestaan uit…omdat mense geglo het.

 En ek is seker Dawid het miskien ook vir ‘n oomblik met die klippie in sy hand gedink: “O hel.” Of Noag terwyl hy timmer aan ‘n reusagtige skip op droë grond: “Ek hoop ek het reg gehoor.” Of Moses deur die woestyn: “Nou mis ek darem die vleispotte van Egipte.” Tog het nie een van hulle teruggedraai nie. Die Here het elke keer hulle verwagtinge oortref.

 Ek staan telkemale verstom voor die gelooftoets. Die Here het my nog nooit teleurgestel as ek met my klippie voor Goliat staan nie. En dis nou weer so.

 Ek begin ongeveer 2 weke gelede by ‘n pragtige koffieplekkie in die Paarl. Die plekkie het so baie potensiaal met sy breë stoep, gesellige kaggel, ou houtvloere en hoë plafon. Die voete deur die plekkie is net te min. Sy keel is besig om toe te wurg. Ek moet kom kyk of ons nuwe lewe kan inblaas.

 Ek weet dis waar die Here my nou wil gebruik. Ek weet egter nie daardie Maandagmôre waar mens begin nie. Twee weke later ken ek die antwoord. Mens begin al oppad werktoe in jou motor. Ek bid dat Gamu en Jolanda die mense vriendelik en flink sal bedien. Ek bid dat Jessie die vloere sal blinkvryf en die kombuis en badkamers so netjies sal hou dat ons daarop trots kan wees. Ek bid dat Barbara sal besef hoe belangrik haar taak as chef is. En dan bid ek selfs vir oupa. Ek bid dat hy die akkertjies met nuwe vuur sal omspit en versorg.

 Die Here luister na desperate gebed. Altyd. Hy weet wanneer Hy jou plan A en jou plan B is. Hy weet wanneer jy met jou klippie staan en gló jy gaan die reus tref.

 Vandag was ons besigste dag tot nog toe in Monte Christo. Ek kan nie anders as om die Here te loof en te prys vir sy goedheid nie.

Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep