Soms se groot verlang
My ma se lemmetjiegroen kers brand vanaand. En Adam Tas se
“Skilpadtepel” speel op ons piepklein swart “china shop special.” Alles is stil
in ons Paarl huisie.
Want vanaand mis ek my ma.
Ek wil hoor wat sy dink van my kort haartjies en nuwe
“highlites.” Ek wil haar vertel van die koffieplekkie waaroor ek nou so groot
droom. Ek wil haar nooi na ons huisie en spog met ons nuwe banke. Ek wil haar
bederf met haar gunsteling cremoratert vir koffietyd. Vir aandete wil ek haar
aan my nuwe seekospasta laat smul. En ek sal ‘n lekker groot slaai daarby maak.
Een met kersietamaties en baie fetakaas. Ek sal kerse op die tafel brand tydens
ete. En ek sal Adam Tas speel. Ek’s seker my ma sal daarvan hou.
Ek wil tot laatnag by my ma op die bed kuier. Ek wil maande,
nèè,
jare se stories vertel. My ma het die laaste, nou byna vier jaar, op so baie in
haar drie meisiekinders se lewens uitgemis. Ek sal bly vertel en vertel totdat
sy my later bedtoe stuur. Vroegoggend sal ek weer by haar gaan inkruip. Ek’s
seker Lambrecht sal nie omgee om vroegoggend vir ons tweetjies koffie in die
bed te bring nie. Ek weet hy en my ma sou vreeslik lekker saamkuier.
Vanaand is die verlang sommer weer nat op my wange.
Tyd maak als mos sagter. Net af-en-toe kom slaan die groot
verlang jou weer lam. Dan blaai ek albums, brand my ma se kers, lees deur haar
resepteboeke en huil ‘n bietjie. En môreoggend as die son sy eerste strale
gooi droog ek my trane af. Die Here sê immers daar’s ‘n tyd vir alles in
hierdie lewe.
Comments
Post a Comment