Ek’s ‘n programmetjie mens. My hele lewe word uur-vir-uur
vooruit beplan. Elke kuier en draaitjie se ry moet sekuur deel wees van my
dagboek, anders voel dit nie heeltemal so reg nie.
My man is weer meer van ‘n “op ingewing van die oomblik” mens. Hy
kla nooit nie, maar ek vermoed my skedules put hom dikwels uit. Veral my
Saterdag skedule. Op ‘n Saterdag moet jy immers alles inpas wat jy deur die
week nie kon raakvat nie. Dis nou van die kruideniersware tot die potte kruie
op die voorstoep. Dis die vol wasgoedmandjie en die huis wat uitroep na ‘n mop
en besem. My pas en dagboek is dus meeste Saterdae skrikwekkend besig.
Gisteraand verras ek my man. “Geen lysies vir Saterdag nie
my man,” kondig ek half trots aan. Ons gaan Evelyn oplaai om vandag ons huisie
van plafon tot vloer te laat skitter. Verder hoef ons net te doen waarvoor ons
lus het. My arme man lyk vir ‘n sekonde of twee byna uit die veld geslaan. Dan
kom die uitbundigheid oor die nuus.
Ons staan Saterdagoggend op vir ‘n klein draaitjie draf. Dan
gaan pik ons vir Evelyn op. Liewe Evelyn lyk opgewonde om ons huisie te kom
regpluk. Ek en manlief eet rustig ‘n stewige ontbyt met RSG op die agtergrond.
Ons TV arriveer eers oor sowat ‘n maand uit Engeland.
Manlief voel lus vir ‘n draaitjie se ry. Ek gaan pluk die
geroeste harte wat nog op ons troue gebruik is en hang dit aan stukke kant in
ons kamer. Die harte is mos deel van ons storie. Ek gooi ‘n nuwe lap oor die
eetkamertafel en rankskik die blomme mooi.
Dan maak ek vir my en Evelyn ‘n teetjie vir stoepsit en tee
drink. Ek gooi krummels vir die voëltjies buite sodat ek ‘n mooi prentjie
het om te geniet terwyl ek my tee drink. Terwyl ek klein slukkies van my “Five
Roses” uit my gunsteling blou beker drink (Hy was nog ‘n kersgeskenk van my
sussies in my matriekjaar) besef ek net weer hoe belangrik dit is om jou huis
te lééf.
Dis nodig en belangrik dat jy soms op die stoep sit en tee drink. In ons
Makkiesplaashuis was daar altyd tyd vir stoep sit en tee drink…met mekaar, met
die bure, en soms net jy en die Here.
Die mure van ‘n huis verklap baie van die mense van daardie
huis. En dit het absoluut niks te make met die meubels in die huis nie. Liefde,
geluk, vreugde en omgee is iets tasbaar. Die mure sal dit verklap.
My gebed vir ons regop huisie is dat daar altyd tyd sal wees
vir stoepkuiers en etes om my ma se groot eetkamertafel. My gebed is vir
hartsvriende wat omgee hier sal ervaar. My gebed is dat ons die bietjie wat ons
het om aan te bied, met hartlikheid en oorgawe sal gee en deel.
Die gedienstige engel het gekom in 'n huis waar
daar liefde was, en met 'n glimlag omgedraai, en gesê: My diens is hier
oorbodig.
~ C.J. Langenhoven
(
)
Comments
Post a Comment