In die Swartkop se kamp het my pa en tannie Marinda ‘n
veldhuisie laat bou. Dit staan langs ‘n laagte, tussen baie bome. Langs die
huisie is ‘n hemelse klipskerm. Al ons kinders moes help klip aandra vir
hierdie skerm. Die klippe kom van die swartkop verder af in die kamp.
En in hierdie veldhuisie gaan ons nog enamelskottels vol herinneringe
maak. Dié het ek net
Saterdagaand gewéét. Ons is
laatnamiddag in verskillende bakkies uit veld toe. Die trek was te groot vir
een voertuig. Stan en Marietjie sou die hout en musiek doen. Ek en Lambrecht
kom agterna met koelbokse kos ens. My pa-hulle is heelagter met die tenk met
water. Water moet nog aangery word vir die veldhuisie. Dis nou vir die luukse
spoeltoilet.
Sommer met die afklimslag sit Stan vir Klipwerf aan. ‘n
Saterdagaand is nie ‘n aand vir na stilte luister nie, meen Stan. Ons steek die
gaslampe in die huisie ook al vroegaand aan. Die veldhuisie het geen
elektrisiteit of selfoonopvangs nie.
Die Here bederf ons met ‘n windstil, suinige sekelmaan aand.
Die sterre is prentjiemooi en helder in die wye Boesmanlandse hemelruim. Elke
nou-en-dan kom wys Nasya ‘n verskietende ster uit. Met toeknypte oë wens ons dan ‘n geheime wens.
Ons skop die aand af met smaaklike skilpaadjies. Almal het
so geil vet strepie om die mond na ons skilpaadjie fees. Dan is die roosterkoek
aan die beurt. Tannie Marinda het ‘n skottel deeg geknie. Ek en Marietjie sal
dit braai. Daar ontstaan egter ‘n effense onderonsie langs die roosterkoeke.
Ons is immers altwee vreeslik hardekop én
slim. Minute later proe my pa een van die gaar roosterkoek uit die skottel.
Soos die duiwel dit wil hê is
die outjie nog effe degerig.
Chaos.
Hy dring daarop aan dat ons alle roosterkoeke terug op die
vuur sit en nog ‘n bietjie braai. Ek’s natuurlik sommer teleurgesteld dat ons
braaivernuf ons so in die steek moes laat. Marietjie laat die episode soos
water van ‘n eend se rug loop. Nee wat, as jy ‘n rou roosterkoek aan tafel vat
moet jy maar self uitkom en hom gou self gaar braai. Dis nou regtig nie te veel
gevra nie, aangesien daar altemit nog een of twee roues sal wees, alvorens
Marietjie.
Dan neem my pa die braairuimte oor vir die vrag vleis wat
gebraai moet word. Dis nou effens koud en ons staan sy-aan-sy rondom die
vuurtjie om warm te bly. Voor ek dit kan probeer wegsteek of terughou, loop die
trane sommer so dun waterstroompie oor my wange.
Ek mis my ander ouers in Engeland regtig baie. Ek mis ons kerk en
ons kosbare vriende.
Maar Liewe Jesus weet hoe ek hierna gehunker het. Ek het
verlang na die Boesmanland, my grootwordplek. Ek kan myself nie losmaak van my
liefde vir hier nie. Orals op Makkiesplaas staan boshuisies waarin ons
huis-huis gespeel het. Die inlope by die gronddam was ook ‘n luukse huis, so
ook die krale op die plaas. Die klipdam was ons swemplek in die somer. Die
paadjie Ysies toe, ons gunsteling stapplek.
Die trane is van dankbaarheid.
As die Here wil sal my en Lambrecht se kinders nog in
hierdie einste skerm leer roosterkoek braai en eet. Hulle sal van vroeg af weet
van skilpaadjies eet. Ek sal hulle leer reëngoggatjies soek en hanslammers melkgee. Hulle sal ook die
Boesmanland verstáán. Hulle
sal leer van eenvoud en dankbaarheid. En as hulle eendag die wêreld wil gaan verken is dit
wonderlik. Maar hulle sal altyd, soos ek en Lambrecht nou, terugkom vir ‘n
braaitjie in die Boesmanland.
Net voor etenstyd draai Stan “Wie se kind is jy” óóp. Hy dans vir ons die riel om
die skerm vuur dat ons later almal kruip soos ons lag. Hy kan dit maklik vir
ons leer, knipoog hy net voor ons om die gaslampe gaan aansit vir ‘n
Boesmanland feesmaal.
Comments
Post a Comment