Ek het ook Dinsdag die Rooisee sien oopbreek. Net soos Moses
het met ‘n nasie Israeliete agter hom. Dis ‘n nederige, verstommende ervaring.
My man sê
ek mag nie meer ongelooflik gebruik nie. Niks is ongelooflik nie. Dis gelooflik
of verstommend…
Almal waarsku my vooraf dat ‘n wintervakansie in ‘n
koffieplek in die Paarl ‘n sieldodende ervaring kan wees. Ek moenie te hoë
verwagtinge koester vir die volgende paar weke nie. My keel trek toe, want daar’s
sekere verpligtinge wat moet nagekom word.
Ons doen Maandag gemiddeld en ek bid Maandagaand en Dinsdagmôre
smekend vir ‘n wonderwerk vir die res van die week. Ek skat net dat ‘n Hemelse
Vader wat manna en kwartels uit die lug kan stuur, blindes kan laat sien en die
dood kan oorwin, ook ‘n koffieplek kan volpak.
Dinsdagoggend begin sieldodend stil. Ek stap gou winkel toe om
wegneem koppies te koop. En ‘n halfuur later stap ek by ‘n stampvol koffieplek
in. Vrolike stemme maak elke gaatjie vol. Die kaggel knetter tevrede en my
personeel blom. Ek vang elkeen se oog en lees dieselfde boodskap: Kan jy dit gló!
Die Here seën ons Dinsdag met presies tot op die laaster syfer toe
met dubbeld as waarvoor ek gebid het. Aan die einde van ‘n besige Dinsdag vat
ons vyf hande by die laaste hitte van die kaggelvuurtjie. Gamu bid vir ons. Ons
sê saam dankie vir ‘n dag wat ons nie sal
vergeet nie. Ons weet ook nou hoe dit lyk as die Rooisee oopgaan.
Woensdag doen die Liewe Vader dit wéér. Ons gaan hierdie Donderdag
in met groot verwagting. As mens bid vir wonderwerke moet jy immers gló dat dit
sal gebeur. En as dit binne God se wil is, sál dit wees.
My ouma Suzie wat die lekkerste vlakoekies in die wêreld bak sê
altyd: “Ons bid nie genoeg nie. En dan glo ons ook nie dat die goed wat ons bid
regtig sal gebeur nie.”
Ek moet Ouma hierdie naweek Sterkstroom toe bel en laat weet dat
ek van nou af regtig sal glo dat daar lewe is in wat ek bid...
Mar.9:23 Maar vir God is
alles moontlik.
Comments
Post a Comment