Jy kan die verskil wees


People go farther than they thought they could when someone else thinks they can.

John C. Maxwell

 Treffend

 Oupa kom werk elke Dinsdag en Vrydag in ons koffiewinkel tuin. Soms noem hy my “mevrou”, en ander kere op my naam. Ek vermoed hy onthou nie altyd my naam so lekker nie. Oupa kry sôggens ‘n beker koffie en ‘n broodjie met invaltyd. Oupa drink egter net die helfte van sy koffie. Teetyd bring hy die ander helfte om weer opgewarm te word.

 Oupa loop al krom en staan al lankal aan die verkeerde kant van 70. Oupa se klere is altyd skoon en netjies, al getuig dit van baie seisoene se dra. “Mevrou wiet, ek’s einlik ‘n vreeslike ‘smart’ man. Ek’t ‘n leather jacket byrie huis vir Sondae Mevrou. Hierie mense, hulle sal my nie ken op ‘n Sondag nie. En ek’t ‘n goue horlosie. Mevrou wiet, ek’t hom by American Swiss gekoop. Dis ‘n blêrrie ‘smart’ horlosie mevrou.” Anderdagmôre bring Oupa sy American Swiss horlosie saam werk toe om by my te spog. Die horlosie is nog netjies verpak in sy swart Tempo blikkie. Nog nooit gedra nie.

 Dis oupa.

 Oupa is die tuinman, maar hy gesels veel eerder met een en almal, as om tuin te werk. En toe begin maak ek ‘n punt daarvan om saam met oupa deur “sy” tuin te stap. Ons droom saam oor hoe die tuin met somer se koms gaan lyk. Ons “ontdek” die onkruid wat geil groei saam. En dan is Oupa meestal vreeslik uit die veld geslaan oor die onkruid wat sommer so oornag kom gesig wys in sy heiligdom.

 Punt is, drie weke later is Oupa se tuin skoner as ooit tevore. Oupa word my regterhand. Hy sorg dat niemand voet in die winkel sit as ek smôrens vroeg al alleen daar is nie. Hy bring vir my die Burger sodra die posman dit kom aflewer. Hy verwilder bedelaars wat net koffiewinkel se rigting kyk. Hy werk langer ure as waarvoor hy vergoed word. Oupa maak homself onmisbaar.

 En dis net omdat iemand in hom glo.

 Dit raak elke dag moeiliker om in mense te glo en hulle te vertrou. Omgee raak moeiliker. Ons bou mure om onsself om ons te beveilig. Ons raak te besig om tyd te maak vir ander. In die proses boet ons bietjies- bietjies van ons menswees in.

 Elkeen van ons kan vandag in een iemand se lewe ‘n verskil maak deur in hom/haar te glo.

 No matter how busy you are, you must take time to make the other person important.

Mary Kay Ash


Comments

Popular posts from this blog

Foto's vertel stories

Ons Veldhuisie stap

Skuinskoekstorie en resep