Posts

Verewig is so finaal

Ons tassies staan al die afgelope twee weke gepak. Hare is ‘n wit blommetjie doekesak wat ons by Lyndi gekry het. Myne is ‘n blou blommetjie een wat ek nog in Stamford se “high street” in Engeland gekoop het. Haar kamer is prentjiemooi – soos ek nog altyd daarvan gedroom het. Nou wag ons, ons eersteling se koms met senuwees, gemeng met opgewondenheid en afwagting af. Saans wil die slaap nie lekker kom nie. Of ons word in die middel van die nag wakker en die slaap bly weg. Laasnag word ek om middernag wakker met Lambrecht se hand op my maag: “Engel, is jy oraait? Amé skop verskriklik.” Ek is oraait, net soms totaal oorweldig deur die gedagte van die nuwe hoofstuk wat wag. Micha, my een skoonsuster sê dis nie ‘n nuwe hoofstuk nie. Dis ‘n nuwe boek. Micha en Van Heerden se jongste is agt weke oud. Nina en Luca is die mooiste iets wat met hulle kon gebeur, vertel hulle dikwels. Petra laat weet uit die Kalahari dat hul weekoue Deniel haar iets nuuts van liefde geleer het. “Dis ‘n l...

Paaseiers en paashase

  Wanneer jy op kraamverlof is, het jy baie tyd vir dink. Dis nou as jou tassie klaar gepak is, jou vrieskas gelaai is met jou man se gunstelinge in gevriesde vorm en elke hoekie van jou huis blinkskoon is. Ek is nou dáár. Ons Lena het vandag bitter hard geswoeg!   Na my middagslapie (Ja, kraamverlof is beslis luuks – voor die baba daar is), begin wonder ek oor die Paastyd. Ek wonder sommer hoe ons gesin dit altyd gevier het. Dis so ongelooflike belangrike datum op die kalender. Ek gaan grawe tussen my albums. En vir ‘n oomblik trek my hart ‘n punt van verlang na kindwees op Makkiesplaas.   Ek’s nie verbaas om te sien Mamma het grootgegaan met ons laaste Paasfees nie. Ons Maandagoggendtafel lyk feestelik. Pappa lyk haastig in sy khaki-kleur hemp. Hy was altyd brommerig as hy moes wag vir later ontbyt saam met die hele gesin. Ons ritueel was immers dat Mamma vroegoggend gereed staan met boerbrood en moerkoffie vir Pappa. Ons ander sou eers later ontbyt. Vir Pa...

Herfskostyd kom vinnig nader

Woensdag is dit warm. Dis so warm dat ek teen 1-uur probeer onthou of ek al óóit so warm in my lewe gekry het. My voete, wat altyd so mooi fyn en vroulik was, is pofferig en reusagtig. Of so voel dit vir my. Die hitte breek my. Pa Danie skryf in ‘n eposbriefie dat dit koud is. Dis bitter koud. Die sneeu maak dat hy nie eens in die tuin kan werskaf of karwas nie. My Lezanne-vriendin uit Engeland sms dat sy besig is om botterskorsiesop en my ma se Boesmanland “buns” te maak. Sy dink sommer aan my. Ek gaan haal my rooi Adidas waterbottel en drink nog ‘n 500ml yswater met ‘n paar teue leeg. En ek mis Engeland se koue. Ek wil bibberkoud kry. Ek wil by pa Danie en ma Elize in hul sitkamer kuier met die klein verwarmer digby my voete. Ek wil van Ma se ongelooflike koffiemasjien koffie drink uit een van hul groot wit bekers sodat ek my hande bakkies daarom kan vou om dit warm te maak. In die middernagtelike ure wil ek saam met Pa, Ma en hul laatlam, my man, rustig teug aan goeie whisk...

Coke en paaseiers

Dit gebeur dikwels. Klein goedjies gebeur, en terwyl dit gebeur weet ek: God is besig om met my te kommunikeer. Hoor ek wat ek hier moet hoor? Woensdagoggend is dit weer sulke tyd. Een van ons kliënte, iewers tussen dertig en veertig, kom loer in sommer net om hallo te sê. Sy is ‘n bekende gesig by ons koffieplekkie. Sy drink normaalweg net ‘n koffie. Sy sit egter lank. Sy gesels lang stories met die meisie wat bedien. As ek kom môre sê en vra of sy nog gelukkig is, gesels sy ook lang stories met my. Woensdagoggend lyk sy soos sy gewoonlik lyk. Kort haartjies, plat op die kop, waarvan die grys plek-plek deurslaan. Sy het ‘n kortbroek aan wat net bo haar knieë sit en haar bloesie is definitief tuisgemaak. Sy kom sê eintlik net vinnig môre, verduidelik sy. Sy gaan later kom koffie drink. As sy nou klaar by die vriendin was. Sy is oppad na haar vriendin.   Die vriendin kry baie swaar. Sy bly iewers agter MacDonalds en sy het nie ‘n werk nie. Dit gaan regtig sleg. Sy b...

Ek Steve alweer...

Image
Saterdagaand was dit weer sulke tyd. Dit was egter die eerste keer saam met my man… Steve het opgetree by Kleine Valleij net buite Wellington. My man is glad nie ‘n groot aanhanger nie, terwyl ek ‘n slaafse navolger is van dié man met die losse sedes. Dit het baie oortuiging en mooipraat gekos om my Lambrecht-man te oorreed om saam te gaan. Hy moes na ‘n bloubul se sang gaan luister terwyl die Bloubulle en die Stormers mekaar die stryd aansê op Loftus Versveld. Dit was baie gevra, maar ter wille van, het hy ingestem. Hy het die man immers nog nooit op ‘n verhoog gesien nie. En dis iets wat elke Suid-Afrikaner behoort te doen! My eerste keer was in standerd twee in Kakamas se N.G. Kerksaal. Ek het daardie aand my hart op Steve verloor. Totaal en al. Weke aaneen het ek na sy kasset met die rooi omhulsel op my geel “walkman” geluister. Oor en oor en oor. Ons maak ‘n bondel en Wilma stuur die epos Woensdag uit – wie bring wat vir die piekniek by Steve. Sommer vinnig is ons pieknie...

Ons vier die liefde

Ons heel eerste Valentynsdag is gevier met 'n maanligpiekniek by die Taalmonument. Ek onthou dat Lambrecht heelaand net in my oë wou staar. My maag het later gegor vir die kaas en beskuitjies. Ons het vonkelwyn gedrink tot my kop lig was van die liefde. Na die piekniek het ons gaan dans by Opskop. Net ons twee, omdat ons lus was vir dans. Ons tweede Valentynsdag het ons nog by Santé Spa gevier met 'n spa-behandeling. My heel eerste spa ervaring. Ek was in die wolke. Na die afspraak is ons eers Paarl Mall toe vir 'n CD van Enya. Ons wou nie afval van die wolkie waarop ons was nie. Op maat van Enya is ons na Val de Vie - die pragtige landgoed met perde resiesbaan. Ons het aan "cocktails" sit en filosofies raak oor die lewe. Ons was jonkgetroud - opgewonde oor ons toekoms saam. Laasjaar was ons Valentynsdag in Engeland. Dit was onmenslik koud. Die kombuis se verwarmer was byna heeldag aan. Ons voorgereg was kaas en beskuitjies uit die hartjie bordjies wat ek by m...

Vet skaaprib en soetpatats

Ek onthou die eerste maaltyd wat ek vir my man in Engeland voorberei het so goed. Dit was 'n sampioensop met interessante broodrolletjies. Vandag weet ek jy maak nie punte by my man met sop nie. Toe het ek dit nog nie geweet nie. Die onweerswolke wat pal oor die hele Engeland hang het my egter laat luskry vir warm kos. Eerste keuse sou my ma se skaapboud, ouma Suzie se braai aartappels, rys met 'n vetterige sousie daaroor en 'n skeppie soetpatats wees. In Engeland is nie 'n pa André wat skaapboude van die Boesmanland voorsien nie. Jy koop ook nie daar 'n skaapboud vir sommer net nie... Dus moes ek 'n goedkoop en maklike opsie kies: Warm sampioensop. Terug in die land van melk en heuning, Afrikaans en skaapvleis, voel ek weer meer vertroud agter die kospotte. Gee my skaapvleis in enige vorm, en ek weet wat om daarmee te maak. In Engeland kon ek groente, vrugte, heerlike vis, hoender en vark teen 'n appel-en-ui kry, maar ek was verlore. Gisteraand, laata...