Posts

Sub.A'tjie in die koshuis

Vier-en-twintig jaar gelede, min of meer hierdie tyd, is ek vir die heel eerste keer koshuis toe. My pa en Ma het my in my geruite blou en wit skoolrokkie na my Sub.A klas geneem. Juf. Marlene van Schalkwyk was die juffrou. Die skool het ook op ‘n Woensdag begin. My skooltas was van daardie boks nommers, navy blou met ‘n uitspattige pienk streep teen die kant. My kosblik was helder geel en my naam het my ma op die deksel met cutex geverf. Pienk cutex. Suné Nel. Ek en Marné Stadler was die enigste Sub.A’tjies. Rainette, haar veel ouer suster, was ons engel. Sy het soggens kom kyk of ons beddens opgemaak is en ons hare gekam. Myne was maklik. My ma het geglo ‘n koshuiskind moet kort hare hê. Marné sin was ‘n pragtige poniestert. Sy het byna elke oggend gehuil as Rainette eers met haar hare begin. My ma het my klere op netjiese hopies in my koshuiskas gepak. ‘n Stelletjie vir elke dag. Ek moes net   elke dag ‘n stelletjie afhaal van die hopie en aantrek. My naam was agter ...

Oupa-en Ouma kuier

My pa-hulle woon in die Boesmanland, iewers tussen Pofadder en Kakamas. Dis juis hier waar Amé nou haar eerste Kersfees sou deurbring. Ons het haar oudste klere, grootste hoed en hoogste sonfaktor sonskerm ingepak vir hierdie plaaskuier by Oupa en Ouma.   Dis tog vreemd om te sien hoe mens se pa nou uiteindelik nie meer net “pa” is nie, maar ook “oupa”. Oukersmiddag sit Oupa se eerste kleinkind op sy been buite op die stoep. Die twee is in ‘n ernstige gesprek gewikkel. Dan sien ek hoe oupa ‘n teelepel vol melktert in Amé se gretige mondjie sit. Sy is nog net nege maande oud, maar daar is niks fout met haar eetlus nie.   As ‘n teelepel nader kom eet sy graag. So hoor ek later dat Oupa sy kleinkind amper die helfte van sy tert gevoer het. Tot my onsteltenis! Sy verweer is eenvoudig dat sy darem nou só lus gelyk het vir ‘n ou stukkie melktert. Saans is ‘n ander storie. By die huis probeer ons werklik ons bes om ‘n roetine te hê wat ons soos die Bybel volg. Iewers saan...

Lize se kleinkoekie liefde

Ons ses het so saam grootgeword. Die drie Van Zyltjies van Upington en die drie Nelletjies van Makkiesplaas. Junie-vakansies het die Van Zyls kom kuier. Dan het ons gaan piekniek hou in die gronddammetjie, ons het saans konsert gehou vir ons ouers, ons het huis-huis gespeel in die bosse. Die kuier met die Van Zyls het nooit opgeraak nie. Nou is ons plotseling grootmense met kinders. Cellie (eintlik Francel) is getroud met ‘n boerseun van Groblershoop se wêreld en hul klein seuntjie, Ben, is alreeds boerseun. Ninnie (Anneen) en haar dokterman, Jurgens, woon al baie Somers en Winters in Engeland. Lize, die “babasussie” is als behalwe meer die baba. Sy en Marli, my “babasussie” het mooi grootgeword. Hulle is nou beeldskone jong vroue met sterre in hul oë.   Lize was kleintyd die mooiste blou oog dogtertjie, met sulke spierwit hare wat altyd wild in alle rigtings gestaan het. Haar geaardheid was soos haar hare…’n wil van hul eie. Vandag het min dinge verander. Lize het steeds...

Elke huis kort 'n kersboom

Marli se whatsapp biep gisteraand. Hulle Kersboom is op. Met 'n foto. Dis regtig 'n besonderse boom van houtplankies. Hier en daar is seegroen strepe. Bo-aan die boom hang die allerlieflikste hout engel met 'n groot rooi hart.  Die versierings is mooi woorde. Marietjie se Kersboomfoto het al die 1ste Desember deurgebiep. Hare is meer eenvoudig met rooi en wit kant en lint strikkies as versiering. Haar boom pronk ook met 'n indrukwekkende engel bo-aan die boom. Ons Kersboom was altyd van daardie tradisionele groenetjies. Ons Kersversierings was oor die jare versamel, en daar was selfs so vet Kersvader wat nog uit my ma se kinderdae dateer het. Kersboom opslaan was altyd 'n groot geleentheid waarna ons weke kon uitsien. Die Kersboom was in die middelste deur van die ingeboude kas in my ma-hulle se kamer. Hy was altyd sorgvuldig toegemaak met swartsakke. Die versierings was in 'n klein boksie saam met hom in daardie kas. Etlike dae vooraf sou ek en Marietjie di...

Clicks se lekker Kersboekies

Ek was nog nooit skaam om te vertel dat ek 'n produk van die Boesmanland is nie, dat my Pa en Ma iewers tussen Pofadder, Brandvlei en Kakamas 'n lewe gemaak het met 'n klein plasie en drie meisiekinders. Want op Makkiesplaas was daar net altyd oorvloed, en dit het niks met aardse goed te doen nie. Ek dink anderdag aan Kerstyd toe ek nog 'n sproetgesig haasbekkie was. Dit was nou die tyd voor almal selfone gehad het. Groot flat screens, i-pads, en labtops was nog 'n belofte in die toekoms. Almal het die Kennis-reeks in hul boekrak gehad en google moes nog ontdek word. Of dalk was dit al, maar ons huis het nie eens 'n rekenaar gehad nie. Rekenaars en baksteengrootte selfone was vir ryk mense. Ons piepklein oranje televisie was net swart-en-wit en meeste van die tyd was die sneeu daarop so kwaai dat jy nie seker was waarna jy gekyk het nie. Hier vroeg Desember stuur winkels mos altyd boekies uit met al hulle Kersgeskenke vir die seisoen. Clicks en Shoprite sin ...

Ons eerste vlug

Ek kan liries raak oor 'n lughawe. Soms vra ek met my mooiste smeek stem vir my man of ons nie net 'n bietjie daar kan gaan rondloop nie. Ek wil net deel raak van die ongelooflike "lughawe atmosfeer." Gisteraand kon ek nie 'n oog toemaak nie, want vandag was my eerste vlug as 'n mamma. Haar blommetjiesdoekesak was met millitaristiese presiesheid gepak vir die vlug. ID en kaartjies waar ek dit die maklikste sal kry, provitas en piesang in die kantsak vir 'n krisis, beursie en selfoon op 'n plek waar ek net kan vat, 'n tennisbal en "Jemima puddleduck" vir kou op die vlug en haar tweede dummy bo-op. Tydens die inboek van ons bagasie, land ons agter 'n geselskap Chinese. Hulle is mal oor ons dogtertjie en sy is mal oor hulle. Sy lag oopmond terwyl hulle in Chinees "peek a boo" met haar speel. Dan wil sy die ronde Chinees in die rooi t-hemp en bril nie uitlos nie, en sy rem amper my arm af om hom agterna te kyk. Ek byt op my ...

Ouma Susie

Vandag ‘n week terug, het ons van Ouma afskeid geneem in Sterkstroom se kerk en begraafplaas. Die dag was skoon en mooi. Langs die graf kon mens die groen en berge ver sien. Die mooi van die natuur het iets diep binne mens kom roer. Dit was altyd net wondermooi. Vanoggend was dit wondermooi en diep hartseer. Ouma se kis het gesak en almal kon vir oulaas lavender blommetjies op haar kis gooi. Elkeen het op sy manier totsiens gesê. Ouma se alle bure was daar, al haar kinders en kleinkinders en agterkleinkinders. Haar haarkapper was daar, en so ook haar huishulp en tuinman. Die swartvrou wat elke dag verby Ouma se huis gestap het met die oulike vet dogtertjie waarvoor Ouma graag lekkergoed gegee het, was ook daar. Almal was daar vir oulaas saam afskeid neem.   Ons het die Saterdag op Sterkstroom arriveer – eerste van alle familie. Tannie Sandra het my saamgeneem om vir Laddie en Ounooi kos te gee. Hierdie twee honde van Ouma moes nou al vermoed iets is verkeerd.   Ek he...