Posts

Gaan leer n les op Kakamas

Byna twee weke gelede klim ek die bus Kakamas toe met ons meisiekind vir kuier by Oupa en Ouma op die plaas. Ek wil hê ons kind moet stof en vlaktes en dorpervleis proe. Maar saam met dit hoop ek dat die Here my kop sal oopmaak vir dink en antwoorde van Hom af. Die bus arriveer Vrydagoggend in Kakamas. Ek het ‘n afspraak met Petri van RegtigAwesome, want dit druk op my hart om haar storie te vertel op papier. Ek stap haar klein klerefabriekie, in die boonste verdieping van Kakamas se ou Meulhuis, met baie verwagting binne. Self het ek toe nog nie geweet waarom nie. Die Here wys my gou waarom ek hierdie afgespreekte uur met Petri gereël het. Sy borrel. Sy gee my perspektief oor die lewe, oor God, oor my bepaalde doel met hier waar ek nou is. Sy is geseënd omdat sy Hom ken. Punt. Nie omdat sy ‘n man en kinders en ‘n besigheid en ‘n huis en ‘n motor het nie. Dis ook wonderlik. Om God te ken, oortref alles. Om Sy kind te wees, om die pad saam met Hom te stap, dis wérklik seën,...

Wille manne-naweek

Die spul mans kom verbreek ons vredevolle weeklange Strandfontein vakansie wreed en onverwags. Die nommerplate van hul Prado’s, Rav en ander blink dubbelkajuite verklap dat hulle van Stellenbosch en omgewing is.   Ek beloer hulle skaamteloos vanaf ons houtdek terwyl hulle uitbundig en lawaaierig afpak. Die koelbokse is baie en swaar. Die kleresakke is klein en leeg, bespied ek bekommerd. Een van die tien kom maak verskoning vir wat wag terwyl hulle die braaivleisvure aansteek. Dis ‘n mannenaweek. Hulle tien pelle doen dit een maal ‘n jaar en hulle sien heel jaar lank uit na die geleentheid. Hulle gaan hulle bes probeer om ons nie te pla nie. Nog een van die ordentlikes neem ‘n selfoonfoto voor die eerste prop oopgedraai word. Ons raai hy stuur dit seker vir sy vroutjie. Waarskynlik die laaste boodskap vir die naweek.   Hulle kon harder probeer om sagter te braai. Vrydagaand het die manne nie einde nie. Ons kind skrik stiptelik om 24:00, net toe ons bed se kant toe...

Vonkel in die huwelik

My man het Dinsdag verjaar. Een van sy kollegas het anderdag gesê dat jou verjaarsdag net so spesiaal is as wat die mense rondom jou dit vir jou maak. Ek wou my man ‘n onthou-verjaarsdag gee.   Maandagmiddag bak ek vir hom ‘n sjokoladekoek om die volgende dag werk toe te neem. Die koek breek effens aan die bo-kant en ek moet kreatief dink om dit te red. Vier “whole nut” sjokolades later lyk die koek gereed vir kantoor toe gaan. Ek bak ook Micha se soutkolwyntjies. Amé is later baie moeilik. Sy gly rond op die kombuisvloer – op die piesang wat sy moes eet. Sy trek haarself teen my op met smerige handjies en ek en die vloer lyk later ewe erg.   Ek oorspandeer heeltemal op ‘n verjaarsdaggeskenk en verras my man met ‘n elektrise boor. Hy is Dinsdagmôre byna giggel opgewonde oor sy nuwe boor. “Dis mos nou ‘n geskenk vir ‘n mán”, hoor ek hom met homself praat. Ek trek ‘n gewaagde kort rokkie en ‘n paar hoë sandale aan vir “cocktails” saam met my man. Ek spuit oordadig b...

MetroPlus na Simonstad

Image
    My Winita-buurvrou sê vroeër die week, sy is lus vir treinry Simonstad toe. Haar suster het dit al gedoen en dis blykbaar ‘n heerlike uitstappie. Van Simonstad se treinstasie hop ons op ‘n bussie na die duikboot, genaamd die Assegaai, wat in Simonstad se hawe lê. Ek en Michelle laat ons nie twee maal nooi nie. Ons stig ‘n whatsapp groepie, “Trein na Pretoria,” en begin reël verwoed. Genadiglik deel ons mans ons drie se entoesiasme. Saterdagmôre op die kop 8-uur ry ons drie gesinne se motors in ‘n konvooi na Muizenburg se treinstasie. Winita verduidelik by die stasie aan haar man dat ons asseblief met die MetroPlus wil ry. Dis duurder en luukser en veiliger. Die stasie is nog stillerig. Daar lê nie rommel rond nie, en niemand lyk gevaarlik nie. Klein Matthew lyk asof die hele opset hom laat gril. Terwyl hy hand-aan-hand met mamma Michelle na ons wagplek stap, fluister-vra hy of hulle asseblief dadelik sy skoene kan was as hulle by die huis kom.   Ons...

"Speedcop" storie

Dit gebeur vandag weer vir die eerste keer in jare. Toe ons motor stop voel my handpalms sweterig en ek kyk benoud rond. Lambrecht lyk effe uit die veld geslaan. “My engel, is iets fout?” wil hy versigtig wees.   Ek skud my kop, want die “speedcop” is klaar hier langs my man se venster. Hy is effe aan die swaar kant, soos hulle meestal maar is. Sy stem is saaklik. Hy soek my man se lisensie. Hy gee die lisensie ‘n verdagte kyk, stap een maal om ons motor, gee die lisensie terug en sê: “Alles is in orde, u kan maar ry.” Ek voel hoe die spanning uit my ledemate sypel terwyl ons wegry. My man verstaan glad nie wat aangaan nie. Ek begin vertel hom hoe spanningsvol dit destyds was as ons die “speedcop” in die verte gewaar tussen Upington en Kakamas. Hy het altyd die slegte manier gehad om ons te betrap op ons pad terug. Dan was ons almal uitgeput en warm. En voertuie het nie van altyd af lugverkoelers gehad nie! Sodra ons hom in die verte gewaar het, moes almal eers wors...

Sub.A'tjie in die koshuis

Vier-en-twintig jaar gelede, min of meer hierdie tyd, is ek vir die heel eerste keer koshuis toe. My pa en Ma het my in my geruite blou en wit skoolrokkie na my Sub.A klas geneem. Juf. Marlene van Schalkwyk was die juffrou. Die skool het ook op ‘n Woensdag begin. My skooltas was van daardie boks nommers, navy blou met ‘n uitspattige pienk streep teen die kant. My kosblik was helder geel en my naam het my ma op die deksel met cutex geverf. Pienk cutex. Suné Nel. Ek en Marné Stadler was die enigste Sub.A’tjies. Rainette, haar veel ouer suster, was ons engel. Sy het soggens kom kyk of ons beddens opgemaak is en ons hare gekam. Myne was maklik. My ma het geglo ‘n koshuiskind moet kort hare hê. Marné sin was ‘n pragtige poniestert. Sy het byna elke oggend gehuil as Rainette eers met haar hare begin. My ma het my klere op netjiese hopies in my koshuiskas gepak. ‘n Stelletjie vir elke dag. Ek moes net   elke dag ‘n stelletjie afhaal van die hopie en aantrek. My naam was agter ...

Oupa-en Ouma kuier

My pa-hulle woon in die Boesmanland, iewers tussen Pofadder en Kakamas. Dis juis hier waar Amé nou haar eerste Kersfees sou deurbring. Ons het haar oudste klere, grootste hoed en hoogste sonfaktor sonskerm ingepak vir hierdie plaaskuier by Oupa en Ouma.   Dis tog vreemd om te sien hoe mens se pa nou uiteindelik nie meer net “pa” is nie, maar ook “oupa”. Oukersmiddag sit Oupa se eerste kleinkind op sy been buite op die stoep. Die twee is in ‘n ernstige gesprek gewikkel. Dan sien ek hoe oupa ‘n teelepel vol melktert in Amé se gretige mondjie sit. Sy is nog net nege maande oud, maar daar is niks fout met haar eetlus nie.   As ‘n teelepel nader kom eet sy graag. So hoor ek later dat Oupa sy kleinkind amper die helfte van sy tert gevoer het. Tot my onsteltenis! Sy verweer is eenvoudig dat sy darem nou só lus gelyk het vir ‘n ou stukkie melktert. Saans is ‘n ander storie. By die huis probeer ons werklik ons bes om ‘n roetine te hê wat ons soos die Bybel volg. Iewers saan...