Posts

Die groot trek begin...

Vanmiddag stiptelik om 3-uur dra my man my oor die drumpel van ons eerste eie huis. Ons beseël die ritueel met ‘n uitbundige soen. Ons Amé-kind is self die ene opgewondenheid. Sy waggel die huis vol op haar wankelrige beentjies. Ek gaan hurk by haar in haar leë kamer, “Dis jou nuwe kamer poppeliefie,” verduidelik ek aan ons een-jarige. Ek vermoed sy verstaan, want sy gee ‘n vrolike gilletjie voordat sy na die venster waggel om haar uitsig te gaan bekyk. In my kop sien ek al tannie Alba se vlaggies in die dag hang. Haar kamer gaan dogtertjie pienk wees. Soos dit hoort. Sy sal ‘n klein boekrakkie hê waarin ons al haar gunsteling boekies en nuwe bybeltjie sal pak. In die leefvertrek gooi ons, ons nuwe mat voor die kaggel. Ons dink nou albei kaggelvuur en rooiwyn, dink ek by myself. Tannie Elaine se verleidelike granate hang ek eerste teen ons leë mure. Dit bring sommer plotseling warmte. Voordat ons die motors begin aflaai, vat ons eers hande vir saambid. Vir dankie sê en vra...

Afskeid van Boschenmeer 625

My gemoed is broos, verduidelik ek gisteraand aan Winita terwyl ons op ‘n geselsspoed draf. Dit voel asof ek ‘n hol paashaas is met niks “binnekant” om te kan gee nie. Eintlik voel ek net lus om in die bed te gaan klim met ‘n boek en hot chocolate, sonder ènige verantwoordelikhede. “Jy is besig om te trek vroutjie, en trek is traumaties. Jy is besig om afskeid te neem van die tydjie hier,” verwoord Winita my emosies op haar kenmerkende rustige manier. Ek het nog nie eens kans gehad om hieroor te dink nie. Iewers tussen bokse pak, Amé se dummy vir die 1000ste keer uit die toilet haal en asemhaal, het ek vergeet dat ek ‘n erg emosionele wese is wat tydsaam deur my emosies moet werk om te oorleef. Toe ek tuiskom lê my lieflingman uitgestrek voor Binnelanders. Hy lyk dolgelukkig. My trane is die laaste ding wat hy vanaand verwag het, besef ek plotseling toe hy my verbaas aangaap. My walle het gebreek en ek kan die trane nie keer nie. Hulle rol sommer so vanself. “Wat is fout my ...

Klere vir vet en maer jare

‘n Paar somers gelede het Erika gekla oor haar klerekas. Dis oorvol van klere uit die verskillende seisoene van haar lewe – vet klere en maer klere, het sy probeer   verduidelik. Dit bestaan uit klere wat nou pas, klere wat al gepas het, en klere waarin sy hoop sy nie weer gaan pas nie. Sy hou dit inelkgeval vir ingeval. Ek het daardie aand vreeslik lekker gelag oor Erika se klerekas. Ek was jonk, manloos en kindloos. My hele lewe het nog rondom myself gewentel. Al my klere was een nommer. ‘n Klein nommer… Ek wil sommer net vandag vir jou sê: Erika, ek verstaan nou. Gister moet ek my klere sorteer vir ons nuwe huis in Wellington.   Ek het die huis gesien en begin droom van ‘n fotomuur en olyfboompie in die tuin. Ek het opgewonde geraak oor die kaggel vir koue Bolandwinters en die werkplekkie vir lapgoed en die stories in my kop. Ek het gerieflikheidshalwe vergeet dat ons nóú ook in ‘n huis bly wat eers geboks moet word voordat ons kan verhuis. Dit is hoe ek by die klere...

Wilma se troustorie

Die oggend van Wilma se troue moet ons stiptelik om half 8 by Under Oaks wees vir saam ontbyt eet. Wilma se troue is stiptelik en sekuur gereël en beplan tot op die minuut. Ons is vyf strooimeisies – sussie Illa en vriendinne. Dis vir ons almal ‘n groot dag, omdat dit Wilma se groot dag is.   Na ontbyt kry ons elkeen ‘n lieflike appelkooskleur kort kamerjassie waarop “Strooimeisie” op die band geborduur is. Toe skop die werklikheid in. Eensklaps soek ons iets vir ons senuwees. Dit kom met ‘n skok dat Marné nie Rescue Remedy by haar het nie. Ons was seker sy dra dit altyd by haar. Toe nie! Illa maak ‘n paar dringende oproepe en sekondes later stop iemand met ‘n botteltjie druppels voor die gastehuis. Ons vyf strooimeisies en die bruid stuur dit in die sirkel om soos nagmaalwyn. Ons sluk gulsig en paniekerig en maak staat op rescue om ons gemoedere te kalmeer. Wilma is die kalmste. Dis haar strooimeisies se senuwees wat wil-wil ingee. Dit gaan oor ons rokke. Tannie Griet is...

Gaan leer n les op Kakamas

Byna twee weke gelede klim ek die bus Kakamas toe met ons meisiekind vir kuier by Oupa en Ouma op die plaas. Ek wil hê ons kind moet stof en vlaktes en dorpervleis proe. Maar saam met dit hoop ek dat die Here my kop sal oopmaak vir dink en antwoorde van Hom af. Die bus arriveer Vrydagoggend in Kakamas. Ek het ‘n afspraak met Petri van RegtigAwesome, want dit druk op my hart om haar storie te vertel op papier. Ek stap haar klein klerefabriekie, in die boonste verdieping van Kakamas se ou Meulhuis, met baie verwagting binne. Self het ek toe nog nie geweet waarom nie. Die Here wys my gou waarom ek hierdie afgespreekte uur met Petri gereël het. Sy borrel. Sy gee my perspektief oor die lewe, oor God, oor my bepaalde doel met hier waar ek nou is. Sy is geseënd omdat sy Hom ken. Punt. Nie omdat sy ‘n man en kinders en ‘n besigheid en ‘n huis en ‘n motor het nie. Dis ook wonderlik. Om God te ken, oortref alles. Om Sy kind te wees, om die pad saam met Hom te stap, dis wérklik seën,...

Wille manne-naweek

Die spul mans kom verbreek ons vredevolle weeklange Strandfontein vakansie wreed en onverwags. Die nommerplate van hul Prado’s, Rav en ander blink dubbelkajuite verklap dat hulle van Stellenbosch en omgewing is.   Ek beloer hulle skaamteloos vanaf ons houtdek terwyl hulle uitbundig en lawaaierig afpak. Die koelbokse is baie en swaar. Die kleresakke is klein en leeg, bespied ek bekommerd. Een van die tien kom maak verskoning vir wat wag terwyl hulle die braaivleisvure aansteek. Dis ‘n mannenaweek. Hulle tien pelle doen dit een maal ‘n jaar en hulle sien heel jaar lank uit na die geleentheid. Hulle gaan hulle bes probeer om ons nie te pla nie. Nog een van die ordentlikes neem ‘n selfoonfoto voor die eerste prop oopgedraai word. Ons raai hy stuur dit seker vir sy vroutjie. Waarskynlik die laaste boodskap vir die naweek.   Hulle kon harder probeer om sagter te braai. Vrydagaand het die manne nie einde nie. Ons kind skrik stiptelik om 24:00, net toe ons bed se kant toe...

Vonkel in die huwelik

My man het Dinsdag verjaar. Een van sy kollegas het anderdag gesê dat jou verjaarsdag net so spesiaal is as wat die mense rondom jou dit vir jou maak. Ek wou my man ‘n onthou-verjaarsdag gee.   Maandagmiddag bak ek vir hom ‘n sjokoladekoek om die volgende dag werk toe te neem. Die koek breek effens aan die bo-kant en ek moet kreatief dink om dit te red. Vier “whole nut” sjokolades later lyk die koek gereed vir kantoor toe gaan. Ek bak ook Micha se soutkolwyntjies. Amé is later baie moeilik. Sy gly rond op die kombuisvloer – op die piesang wat sy moes eet. Sy trek haarself teen my op met smerige handjies en ek en die vloer lyk later ewe erg.   Ek oorspandeer heeltemal op ‘n verjaarsdaggeskenk en verras my man met ‘n elektrise boor. Hy is Dinsdagmôre byna giggel opgewonde oor sy nuwe boor. “Dis mos nou ‘n geskenk vir ‘n mán”, hoor ek hom met homself praat. Ek trek ‘n gewaagde kort rokkie en ‘n paar hoë sandale aan vir “cocktails” saam met my man. Ek spuit oordadig b...