Posts

Dankbaar 2015 in

Die woorde in my kop is deesdae baie stil. Ons het ‘n nuwe skaaphondjie, Stella. Ek het nie geweet skaaphondjies is so energiek nie. En hulle kou aan álles. Van jou kinders se buite speelgoed, tot die gras en jou enigste roosboompie. Ons 21 maande-oue dogtertjie is in proses om uit haar bababedjie na haar dogtertjie bedjie te skuif. Ons moet eers by haar lê tot sy wegglip in droomland, en dan kom maak sy ons nag vir nag so rondom half twee wakker. Dis niè maklik nie. Dis piekseisoen in my man se lewe. Hy soek orals mooi druiwe vir die Ooste. Hy slaap en eet en leef nou druiwe. Vandag oor minder as twee weke sal ons ‘n seuntjie ryker wees. Alhoewel ek presies weet wat om te verwag, bly die hospitaalgedagte ‘n vreesaanjaende een. En ek bly maar bekommerd oor ons oudste wat tot dusver die enigste spil was waar om ons wêreldjie gedraai het. Alles in een asem opgenoem. Dus – my kop het nie tyd vir dink en stories maak nie. Ek oorleef en hanteer net nóú. Tog, ondanks bogenoe...

Ons bak Pofadder Koekiefees koekies

Ek kuier by my Marietjie-sussie op Millerton. Dinsdagoggend beplan ons om koekies te bak. Oor sowat twee weke is dit hul Pofadder A.P Kerk se koekiefees. Ons sal die koekiebakkery in fases afhandel. Met kinders moet mens nooit te entoesiasties of opportunisties wees nie. Hulle bepaal immers jou spoed. Dis ‘n harde les wat mens noodgedwonge vinnig moet leer. Dinsdagoggend begin nie goed nie. Ame se eerste vloermoer is voor sy haar oggendpap kan eet. Vir die res van die oggend wil sy opsluit op my skoot sit. Asof sy sement is. Anmari se tande pla en sy is self nie te gelukkig om sommer net op haar eie te speel nie. Ons deel die laaste bondel deeg van die outydse soetkoekies tussen die niggies. Ons gee vurke waarmee hulle gaatjies in die deeg kan steek. Ons is later raadop. Die niggies eet bondels van die deeg en raak woedend as ons dit dan afvat. Die oggend is ‘n absolute nagmerrie. EK voel later tranerig. Ek en Marietjie het dan n...

Woorde wat mens maak dink

Verlede Woensdag gaan maak ek vir die eerste keer ‘n draai by oom Basie Basson \se skoenwinkel in Wellington. Ek’s opsoek na iets moois, prakties en plat, dog bekostigbaar. Oom Basie kom bied vriendelik aan om te help, maar ek wys die hulp van die hand. Ek het ‘n vreeslike besluitelose natuur en vaar altyd beter so op my eie. Dit maak my net verleë as iemand my besluiteloosheid nog moet gade slaan ook. Oom Basie kom help inelkgeval. Ons gesels later so lekker dat ek skoon vergeet van skoene aanpas. Net voor ek my nuwe paar skoene gaan betaal, beduie oom Basie ek moet in sy kantoor na sy vrou en kinders se foto’s kom kyk. Hy’s baie trots op sy gesin. Oom Basie se vrou is ‘n sprankelende donkerkop tannie. “Sy sê soms dat sy nie dink sy het tot haar volle potensiaal in die lewe gekom nie. Sy was immers maar altyd ‘n tuisbly mamma. Sy het drie Godvresende kinders grootgemaak. Wat groter is daar om te bereik in die lewe?” vra oom Basie my eensklaps baie ernstig. Oom Basie se wo...

Die wrang smaak van oorvreet

“Maar my magtag. Eet ek sowaar 4 koeksisters sonder dat ek wou, lus was, of geweet het ek doen dit. Dis wat gebeur as 10-uur gaste nie genoeg eet nie.”                   - Retha Compion (Woensdag)-   Toe ek hierdie muur inskrywing van Retha op haar facebookbladsy raaklees, kon ek nie anders as om sommer kliphard te lag nie. Ken ons nie almal daardie verslae gevoel na ‘n ondeurdagte vergryp nie? Jy besef eers jy en jou man het sommer ‘n hele slab sjokolade alleen verorber – as jy met die leë ou papiertjie asdrom toe strompel. Soet en oorvreet en verslae. Ek bid elke môre opnuut vir selfbeheersing. Of ek smeek dit van die Here af, want daar’s ‘n handjievol goed wat ek eenvoudig nie kan weerstaan nie. Grondboontjiebotter is een van daardie dinge. Dan neem ek soms ‘n doelbewuste besluit om dit liefs nie in ons huis aan te hou nie. Dis egter so selfsugtig, want ons Amé-kind is net so lief v...

Spurkos, Steri Stumpies en Josh

In die kwessie van ‘n week se tyd vertel buurvrou Yolandé van die nuuste roof in Paarl mall. Swaer Van Heerden bel uit Somerset-Wes om te vertel van die jongste roof in die winkelsentrum waar hulle gereeld gaan inkopies doen. Tannie Elaine vertel van die kinderfiets wat uit die parkie oor die straat gesteel is, terwyl die kindertjies nog niksvermoedend speel. Wilma vertel van die inbraak twee huise van hulle af, helder oordag, Piketberg. Desnieteenstaande het ek nie in die minste die begeerte om elders te woon nie. Josh, Lambrecht se groot vriend uit Engeland kom kuier onlangs by ons. Hy was sowat vier jaar laas in Suid-Afrika. Josh se vel is al ‘n gesonde kleur toe hy by ons aankom. Hy is immers al ‘n week in die land. Die eerste naweek na sy aankoms het hy al die eerste keer afgedop na ‘n Saterdag langs sy pa se swembad in Hermanus. Sy vel ken mos nie meer die ongenaakbare Afrika-son nie. So, wat wil hy alles eet en doen terwyl hy in die land is, wil ek natuurlik belangst...

Familiekuier in Dukes 28

Sondagaand lê en vryf Stan blykbaar sy maag in die bed en gee ‘n swaarmoedige sug – “Wat nou?”, wil my sussie effe deur die slaap weet. Hierdie leefstyl van sosialiseer en vreet en drink sal hom gedaan maak. Hy is maar bly hulle is môre weer oppad plaastoe, was Stan se onmiddelike antwoord. Dis nou tyd. Marietjie vertel dit vir my Maandagoggend met die groetslag. Sien, my Boesmanlandfamilie was mos hierdie naweek vir ‘n familietroue by ons. Marietjie en Stan en Anmari het sommer al Woensdag agtermiddag arriveer. Marietjie kom klim af met regte egte plaaseiers, ietsie vir my en gedagtetjie vir Amé. Ons skop die naweek af met my tuisgebakte sjokoladekoek en koffie. En toe begin kuier ons. Stan en Lambrecht gaan rook die naweek sommer so met koffie en koek in die skaduwee agter ons huis in. Toe die son sak steek ons vuurtjie aan. Donderdagoggend vroeg vertrek ek en Marietjie al Paarl mall toe. Die pappas is aan diens. Marietjie verduidelik oppad dat sy nie regtig iets in die ...

Boesmanland kom kuier

My plaasfamilie kom kuier eersdaags in ons nuwe Wellingtonhuis. As 'n windpomp nie onverwags breek, of 'n jakkals amok saai, of die plaaswerkers die pad vat nie, behoort hulle Woensdagnag laat te arriveer. Ek's verheug. Ek beplan al weke lank aan die spyskaart vir hul langnaweek by ons. Elkeen se slaapplekkie word sorgvuldig beplan. Ons is 'n bietjie meer mense as beddens, maar familie verstaan gelukkig altyd. Vandag gaan doen ek inkopies vir die groot kuier. Dit neem lank om te besluit watter sjokolade vir wie se bed. Selfs vir kleine Anmari moet ons op 'n soete bedbederf besluit. Ons winkeltrollie sug onder sy vrag. Want dis een ding wat ons Nelle graag doen - ons hou van eet. Ons is nie van daardie families wat laat ontbyt en dan deurstoot tot vanaand se braai nie. Ons eet ontbyt, teetyd is dit tee en koekies. Ons mis verseker ook nie middagete of namiddagkoffie nie. Elke saamkuier om die tafel of koffietafel is 'n "happening". Behalwe vir die...