Posts

Moedersdag van Pofadder tot Wellington

Ek het règtig ‘n wonderlike man, besef ek hierdie Moedersdag weer. Ons beplan al van Maandag af aan Moedersdag. Eers wil ek iewers gaan eet vir Moedersdag. Teen Woensdag is ek nie meer lus vir uiteet nie. Ek wil eerder iewers gaan piekniek hou. Iewers nie te ver van die huis af nie. Teen Vrydagmiddag 5-uur wil ek eerder sommer net in ons agtertuin piekniek hou. Dis die heel minste moeite. Saterdag bied manlief aan dat ek ‘n bietjie met sy bakkie rondry. Ek kry twee vriendinne vir ‘n laat ontbyt en teen die tyd dat ek tuiskom, is manlief al haastig dorptoe. Hy kom stert tussen die bene terug huistoe. Geen winkels is meer oop nie. Net Wellington se videowinkel. Vanoggend is hy erg verleë oor sy liefdesbriefie wat net op lyntjiespapier geskryf is. Dis die mooiste briefie en ek is sommer opnuut verlief op my goeie man. Hy gee Amé ontbyt en ruil ‘n aaklige doek om terwyl ek by die kerk is. Hy maak Daniël aan die slaap en hy vee ons leefvertrek uit en mop dit daarna. Ek stap dus na...

Die vreugde van Moedersdag

EK’s in ‘n baie diep graf of groef of watter misrabele benaming jy ookal my toestand wil gee, vertel ek aan my vriendinne. Wilma en Lyndi giggel net terwyl hulle teug aan hemelse soet Hazelnut lattes en luister na my stories. Hulle weet ek kan soms ‘n bietjie dramatiseer. My Marietjie-sussie lag so hard dat ek nie kan help om later saam te lag nie. Vrydagaand is ek verby my rooi kwik toe manlief tuiskom. Hy het ‘n uitstekende dag op kantoor gehad. Uitstekend man. In vergeleke met sy dag lyk myne nog váler en chaotieser. Ek drink Vrydagaand meer as my een ou glasie erg verdunde witwyn. Dit help ‘n bietjie. Terwyl manlief ons oudste in die bed sit, ruim ek kombuis op. Ek het heelweek so mooi gesond en gebalanseerd en gefókus geëet. En toe, op my broosste uur van die week verloor ek my selfbeheersing heeltemal. Ek smeer dik appelkooskonfyt op die halwe kaasbraaibroodjie en verorber dit op die laaste note van Noot-vir-noot. Toe vaar ek die lekkergoedkas in. Gevaarlike ding om vrou-a...

Die mag van gewoontes

As jy altyd doen wat jy altyd doen, sal jy altyd kry wat jy altyd kry. (RSG-advertensie…nie seker of die bewoording presies reg is nie!)   Ek het hierdie aanhaling vanoggend half 6 op my kombuisswartbord geskryf. Ek weet ek moet dit deel. Die Here seën my met vriendinne wat almal op ‘n opwindende plek is. Die een staan op trou, die ander verwag haar eersteling, ‘n ander een oefen vir haar sesde Comrades, nog ‘n ander een is besig met ‘n reuse kopswaai in haar lewe. My sussie is swanger met haar tweede spruit en my skoonsus is besig om te verhuis. Ek is ryk aan interessante vriendinne! Wat ookal die berg is wat jy besig is om te klim op hierdie Maandagmiddag…moenie vasgevang raak met die “plek” nie. Die uitkoms of antwoord is dalk nie daar waar jy nou besig is om te kyk nie. Skep asem, asem die mooi van die herfs in. Klim uit die groef van elke dag en probeer iets ánders. Al dek jy dalk net mooi tafel vanaand en steek ‘n kers aan vir atmosfeer. Enigiets. Nuwe gewoont...

'Nice Sondag Strand roomys

Sondagnamiddag is die perfekte herfsdag. Ons besluit baie impulsief om Strand toe te ry vir roomys. Die Strand het maar selde die perfekte stranddae. Maar dit het wel die perfekte roomyswinkel. Ons het ‘n spesifieke een, ‘Nice’, wat ons graag ondersteun. Die geluk is aan ons kant. Ons kry parkeerplek sommer klipgooi van die roomyswinkeltjie. Dit neem my, soos gewoonlik, ‘n rukkie om op ‘n roomys te besluit. Selfs toe Lambrect al ‘n rukkie in die ry staan, probeer roep ek subtiel van buite die winkel na my man binne. Ek’t van plan verander. Nie meer vanilla met karamelsjokolade rondom nie. Ek soek nou eerder “rum and raison” op ‘n “sugar cone.” Aan die mense wat verbaas na die verwarde mamma met die twee kinders in stootkarretjies staar, steur ek my min. En dan gebeur die onvoorspelbare. ‘n Knalrooi Uno kom stop langs die winkel. Op ‘n geel streep. Die karretjie se vrag is swaar. Die passasiers sit op mekaar se skote. Net enetjie klim uit. Dis ‘n lenige, goedgeboude meisie....

Marietjie se yskas

Dis regtig een van my gunsteling bestemmings. Ek kan myself binne die ruimte verloor en verstom in een asem. Dit bly ‘n avontuur. My Marietjie-sussie se yskas… Marietjie is ‘n baie geordende en flukse vroutjie, moet ek ter verdediging begin. Haar yskas getuig van haar deugsaamheid. Daar is eenvoudig ‘n ietsie van alles, órals. Boonste rak is oopgemaakte gebotteldes. Daar is ‘n skraps van tannie Marinda se kerrieperses onderin ‘n groot bottel. Dan is daar ‘n klomp klein halwe botteltjies – dis nou appelkooskonfyt, vyekonfyt en kweperkonfyt onder andere. Almal is nie konfyteters nie. Maar Marietjie is. Haar snytjie boerbrood saans word mooitjies halveer. Die een helfte kry altyd botter, ‘n teelepel konfyt en ‘n bietjie kaas op. Die ander helfte wissel – soms kaiings, ander aande stukkies biltong of soms eenvoudig botter met Bovril. Daar is gewoonlik ook gebottelde beet en gebottelde koperpenniewortelslaai op daai boonste rak. Die middelste rakke van Marietjie en Stan se yska...

Eenvoudiger...

Ons kuier gister by ons Coetzee-familie in Somersetwes. Laataand praat ons oor hoe ons grootgemaak is. Ek bieg verskonend dat ons nie super gekultiveerd opgebring is nie. Ons ken niks van skilderye of klassieke musiek nie. Ons mure was versier deur foto’s en foto’s en nogmaals foto’s.   Die enigste skildery was die een wat oom Hendrik vir my Pa en Ma geskilder het om dankie te sê dat hulle, hul so ontferm oor sy twee kinders in die koshuis. Die skildery was vol simboliek en baie spesiaal. Dit hang steeds in ons grootwordhuis. Ons het grootgeraak met Die Briels en Klipwerf. Ek het sushi en salmon maar eers anderdag leer eet. Van wyn wil ek nie eens praat. Daar is vandag steeds min dinge wat kom by ‘n ou hanepootjie. Maar soos my swaer gisteraand opmerk. Mens moenie ‘n eenvoudige, ongekompliseerde grootword vergelyk met gekultiveerdheid nie. Want ongekompliseerd grootword is baie kosbaar. Vanoggend vereenvoudig ek weer my lewe. Alweer. Ons spierwit slaapkamer moet waai. Van...
My nuutste gunsteling uithangplek met ons twee kinders is Wimpy in Wellington. Dis nuut oorgedoen en het die lekkerste speelplek vir die kindertjies. Amé is dus in die wolke as ons voor Wimpy stop. Die ambience welgeval Daniël beslis ook, want hy slaap soos ‘n klip in Wimpy. Anderdag maak ons weer so. Ek bestel ‘n ekstra groot koffie vir myself en ‘n vanillageur melkskommel vir Amé. My skoonsus beweer vanilla het darem so raps minder kleur en geurmiddels daarin. Daarom dat ons maar altyd vanilla doen. Amé se taalgebruik is genadiglik ook nog nie van so aard dat sy met my kan redeneer oor die kleur van haar melkskommel nie. Ek weet dit kom nog. Sy glip dadelik weg speelarea toe en ek kan nie wag om die dag se Burger onder oë te kry nie. Langs my kom sit ‘n verdagte man en sy seun. Met verdag bedoel ek bloot dat indien hy agter my in die straat sou stap, ek my handsak baie styf onder my arm sou vasknyp. Soos my ma my mos geleer het. Vir ingeval hy beplan om dit te gryp. D...