Posts

Showing posts from 2011

My ma se hemel 50ste

My ma was Sondag 50. Sy het dit in die hemel gevier. Ons drie sussies het besluit om dit ‘n groot naweek hier op aarde te maak. My ma sou dit inelkgeval so verkies. Tannie Tersia en oom André se vriendelike Kakamashuis sou die gepaste plek wees om die naweek deur te bring, het ons eenparig besluit. Saterdagoggend is ons saam met tannie Tersia Yanoock toe vir ‘n koffiekuier – die koffieplekkie in Kakamas waar Mamma die heel graagste gekoffie het saam met haar hartsvriendinne. Na die koffie is ons sussies in ‘n baie vrolike luim Upington toe vir uiteet en fliek. Die besluit was maklik, ons sou by Spur gaan eet – definitief nie oor hul besonderse kos nie. Ons het op Spur besluit omdat dit die een plek is waar ons een maal per jaar “getreat” is vir uiteet baie jare gelede. Daai één jaarlikse uiteet was groot! Weke vooruit sou ons al uitsien daarna. Uiteet was raar soos gaskoeldrank en fetakaas. Die dat ek seker vandag nog respek het vir dié goed. “Platteland” na die uiteet,   was ‘n aa

Dankbaar vir drome

Sodra al my lyste en tabelle eers in orde is, staan my kop pakstoor toe. Dis immers ‘n plek van baie stories. Ek gaan staan gewoonlik sommer so by die vroutjies wat uitknip en dan help ek hulle knip. En ek vra hulle uit tot by oom Daanjie in die kalwerhok. Hulle gesels normaalweg graag. Hulle is nie soos baie van ons wat te versigtig is om ‘n stukkies van ons menswees te deel nie. Ivy is ‘n klein, fyn sewentienjarige Tswana-vroutjie met een goue tand links voor. Anderdag gaan staan ek by haar en help haar druiwe uitknip. Die gesels kom sommer so vanself. “Ek het ‘n kind,” vertel sy trots. “Die mense, hulle sê my kind is baie mooi.” Ek is aanvanklik eers verstom dat Ivy wat nog self soveel kind is, reeds spog met ‘n baba. Sy vertel dat die baba onbepland was. Sy dink haar inspuiting het nie gewerk nie of iets. Die pa is nog self ook net kind. En sy wil beslis nie nog ‘n kind hê nie. Blykbaar is geboortegee nie kinderspeletjies nie. Sy moes skool los omdat sy swanger was. Sy werk nie

Pofadder se langoortjies hou konsert

Die groot aand was ‘n Donderdagaand in Pofadder se kerksaal, stiptelik om 18:00. My Marietjie-sussie hou elke Vrydagoggend kleuterskool vir Pofadder se kindertjies. Vanaand was hul einde-van-die jaar konsert. Ek het baie impulsief besluit om na werk gou in die pad te val Pofadder toe vir diè groot geleentheid. Ek kon met die afklimslag sien dat my sussie ‘n senuweewrak was. Die kleedrepetisie vroeër die dag was blykbaar ‘n volslae mislukking. Marietjie het nie goeie moed gehad vir die konsert nie. Die ouers was natuurlik vol verwagting vir ‘n lekker “show.” Almal was gereed met videokameras en kameras. Die aand het goed afgeskop. Niemand was waar hul moes wees nie. Twee engeltjies, Veronique en Gerrie, het mekaar op die verhoog “gevind” en het vrede gehad met die res van die konsert. Die twee 2-jarige skapies, Stephan en Pieter, het heeltemal vergeet wat hul veronderstel was om te doen. Dis nou na hulle, hul hande op die oulike blikbekertjie gelê het. Pieter was blykbaar buitendien

My Boesmanland verjaarsdag

Hierdie verjaarsdag was anders. Dit was nie blink en besig nie. Dit was nie propvol foonoproepe en eposse nie. Ek was in die Boesmanland. Sonder enige internet of selfoonopvangs. Die naaste koffieplekkie is in Kakamas, sowat 180km ver weg. Ek het dus ook nie gaan draaigooi in ‘n koffieplek vir koffie en koek nie. Hierdie verjaarsdag was anderster spesiaal. Ek was by Marietjie en Stan op Millerton. Vroegoggend het Marietjie een of ander “Lekker verjaar” CD kliphard laat speel. Sy’t by my in die bed kom klim met melkkoffie en van haar selfgebakte gesondheidsbeskuit. Die melk was ordentlike koeimelk van die buurplaas, Sarien-hulle se koeie. My pakkies het ek een-een opgeskeur en elkeen was spesiaal. Elkeen was so met die hand uitgekies na my behoeftes. In my pa en tannie Marinda se pakkie was onder andere droëwors en sjokolade liquer. Marietjie het die fraaiste blomvoorskoot gemaak vir my spesiale dag – saam met ‘n paar ander goedjies. Wilma se pakkie was vol goedjies wat ek kan inpak

Paktyd in Blouputs

Ek was al hier, sowat vier jaar gelede. Hier amper aan die einde van Blouputs waar die hel elke dag uit jou brand. Hier waar die berge ekstra mooi en groot is. Hier waar die rivier sommer klipgooi van die pakstoor rustig vloei. Ek het net nie vier jaar gelede gedink my lewe sal weer hier draai kom gooi nie. Intussen het ek my ma verloor. Ek’s getroud en my pa het ook weer getrou. Ek moes leer aanpas in Engeland. Ek moes leer kosmaak sonder dorpervleis uit die Boesmanland. Ek moes leer Engels praat sodat die Britte my kan verstaan. Baie dinge gebeur in vier jaar se tyd. Gisteraand sit ek op die muurtjie voor my woonstel wat uitkyk oor wingerd, berg en rivier. Dit was ‘n woeste dag in die pakstoor. Die mense se hande is nog dom met die skêrtjies. Hulle het immers ‘n jaar terug laas so heeldag geknip. Ek por ‘n Tswana-vroutjie aan om vinniger te knip aan haar krat druiwe. “Die hand, hy’s moeg en lam,” kom haar antwoord versigtig. Ek kan amper dieselfde sê – “Die kop, hy voel vanaan

Ons ver mamma

Drie jaar gelede op hierdie dag, rondom 15:00, sou my hele lewe verander. My perfekte lewetjie sou inmekaar tuimel.   Die twee vorige jare op hierdie dag wou ek nie opstaan nie. Die eerste herdenking het my spesiale Nico-maatjie met my langs Langebaan se see gaan eet. Hy’t my gelos om net te wees. Alles in my het daardie oggend gepyn. Laasjaar was my man by my. Hy huil saam met my oor my ma – al het hy haar nie geken nie. Hy ken my en hy weet hoe seer my hart raak as ek oor my ma praat.   Ek weet ek het laasnag iewers wakker geraak omdat ek myself kliphard “Mamma” hoor s ê . Ek het dadelik gedink: “Ai tog, ek hoop nie Lambrecht het nou gehoor nie. Dit moes klink of ek effe van my sinne beroof is!”   As ek by die huis was het ek en my ma en Marietjie altyd ses kilometer gaan stap na die namiddag koffie. Dit was die heel lekkerste kuiertyd. Ek onthou so helder hoe ek eendag ges ê het: “Mamma, ek’s so bang mamma hou op om vir my lief te wees.” My ma het so mooi geantwoord, “Ou Surra,

Die prys van vryheid

Vandag was my laaste dag se werk by Frothy’s vir 2011. My tassie staan alweer oop onder die tafeltjie waarop my spie ë l staan…en my kompas staan alweer Boesmanland se rigting.   Louise, my baas, het my gister eenkant toe geroep. Hulle wil nie my bedanking aanvaar nie. Sy en haar man het gepraat. Hulle sal my “waitress” werkie vir my oophou vir twee maande. Vir die mense in Frothy’s sal hulle eenvoudig s ê ek’s op ‘n “sabbatical”. Ek sien dit as God se goeie guns dat die Engelse “customers” begin lief raak het vir my. Aanvanklik wou niemand eens met my praat nie – bloot omdat hulle nie my aksent kon verstaan. Ek skat hulle ore moes na 7maande begin gewoond raak aan die erg Afrikaanse-Engels.   En hier maak ek vanaand die laaste keer in 2011 die koffiemasjien skoon. Ek luister ingedagte na “Rutland Radio” terwyl ek die dag se melkskuim en moer sorgvuldig afvee. Iewers diep binne voel ek die hartseer roer. Hierdie koffieplekkie was my eerste groot tree na selfstandigheid in die vreemd

Melkboksies en papbakkies

Anneen het al dikwels gekla oor haar man se vreemde gewoontes. Omdat Anneen ‘n oudste kind is, en oudstes maar die gewoonte het soms ‘n   bietjie aan te dik, het ek haar stories met ‘n knippie sout geneem.   Nou weet ek sy het niks aangedik nie.   Sowat twee weke gelede gaan kuier ek by hulle in hul pragwoonstel in “The Heart”. Dis in die hartjie van Walton-on-thames en dis regtig prentjiemooi. Uit die aard van die saak werk my niggie bedags en moes ons saans ons kuiers kuier. Manlief Jurgens is ‘n dokter, wat toe daardie spesifieke week nagskof werk. Ek en Jurgens kry toe bedags kans om bietjie te kuier. En so kry ek ook toe die eerste keer kans om bietjie Jurgens se “ander kant” te leer ken.   Iewers deur die week gaan stap ek ‘n verken-stappie deur Walton-on-Thames en met my terugkomslag by die huis kry ek Jurgens op die bank, rekenaar op die skoot en boks sap langs hom. Ek wou nog wonder hoe hy die sap gedrink kry uit die groot sapboks sonder ‘n glas. Dit neem nie lank voor hy m

Bakpoeding en Klipwerf

Ons gaan kuier Sondag na kerk by Marcel en Eska. Ek’s in beheer van die poeding vir die Sondagmaal.   Ek pluk dus eergisteraand my ma se resepteboek en skoonma se wenresepte uit vir idees. Al die poeding-praatjies veroorsaak dat Lambrecht later langs my kom sit en saamblaai. Ek sien hoe hy lank en verlangend kyk na die aanloklike malvapoeding in Wenresepte.  " Wat dink jy moet ek Sondag maak?,” vra ek nuuskierig.   “Ek is al s ó lus vir ‘n Jan Ellis poeding. En vir ‘n malvapoeding. Wanneer maak jy weer kaaskoek? Kan jy melkkos maak? My ouma het altyd so lekker melkkos gemaak,” kom daar sommer ‘n klomp inligting in een asem uit.   Ek moet my liewe man, wat klaarblyklik nou al vir ‘n hele rukkie lank heimlik met ‘n groot nagereg-lus loop, teleurstel. My kaaskoek resep is iewers in ‘n boks weggepak en geberg in Georgie-hulle se “garage” in Hamlet (Ek sweer by daardie resep en is huiwerig om enigiets anders op die proef te stel!). Wat die melkkos betref - ek het al een maal vante

Braairibbetjie en soet patats

Sommer met die instapslag Vrydagmiddag kan ek ruik: Hier word groot gekook. Groot. Ek moet verklap dat ek ‘n lui huisvrou is en dat my man genadiglik nooit daaroor kla nie. Ek kry soms ‘n gier en dan sal ek nou resepteboeke blaai vir lekker reseppies…en dan ‘n storm loskook. Soos ek reeds genoem het, is dit normaalweg niks meer as ‘n gier wat vinnig oorwaai nie. ‘n Standaardaandete neem my hoogstens ‘n halfuur en daar’s nooit meer as twee kastrolle of panne vuil nie. Lekker kookkos eet ons meestal by ma Elize. By haar hoef ek nie eens te probeer kersvashou nie. Haar soetpatats proe die ene heerlike ryk “caramel” en haar selfgemaakte hoenderpastei moes verseker al menigte VLV-pastei kompetisies wen! Terug by Vrydag. Die reuk van kookkos was dus vir my en my man beide goeie nuus. Ek en Lizanne het egter ook groot naaldwerkplanne gehad. Daar was tannie Marinda se wasgoedsakkie was moes klaar, en Marietjie se vatlappe. Bernie en Lambrecht het ons gou laat verstaan dat hulle “ander draa

Vet, vetter, vetste

Image
Sy’s een van die vrolikste mense wat ek ken. Louise (Mede-eienaar van die koffieplekkie waar ek nou werk) laat haar nie gou deur die lewe druk nie. Sy’s van daardie spreekwoordelike dinamiet in klein pakkies. (Die Liewe Vader het haar ekstra klein verpak. ) Louise het net een klein   “issuetjie” in die lewe. Daardie ou “issuetjie” waarmee die meeste vroue worstel: Gewig. Sy “toets” gedurig ‘n nuwe gym uit – wat slegs behels dat sy daarheen gaan om te kyk hoe die gym se binnekant lyk. Daarna soek sy ‘n persoonlike instrukteur op om haar ideale gewig te bereken en daarna sluit sy by die gym aan. Net om nooit weer daarheen terug te gaan nie. Die blote gedagte dat sy iewers aan ‘n gym behoort, is vir haar heeltemal genoeg. Louise hou van beter dinge in die lewe as oefen – volgens haar…Sy   hou van geen aktiwiteite wat jou dalk kan laat sweet nie.   Louise is bereid om te stap – mits dit tussen winkels is opsoek na ‘n winskopie. Of van die motor na die haarsalon of skoonheidsalon vir

Herfsoggend verlang

Image
Ek het al leer saamleef met die gedagte. Ek gaan huil nie meer in die badkamer as ek die geur van “Red Door” aan iemand ruik nie. Ek kan al oor my ma praat en lag oor mooi herinneringe. Volgende Vrydag sal dit immers al twee jaar en 11 maande wees dat sy nie meer met ons is nie. Maar vanoggend is die verlange weer van voor af so fel. Dis ‘n sprokiesmooi toemis oggend hier in Engeland. Die eerste herfsblare sweef van die bome af. Die oggend is so perfek. Vir ‘n vlietende oomblik wil ek gou my ma bel om te vertel van die mooi oggend. Ek wil haar ook vertel van my viooltjies wat so vrolik blom. Dis nou die viooltjies wat ek nog by my skoonma gekry het. Ek wil haar ook vertel van my eerste rooi hartjie, selfgemaakte vatlappe. Die randjie om die vatlappe is nie so netjies soos wat hare was nie, maar ek het dit immers klaargemaak. Sy sal so trots wees op my. Ek moet haar vertel van my nuwe aartappelslaairesep waarvan almal so baie hou. Die geheim is waarskynlik die snertsie heelkorre

Ons manne maak boerewors

Image
Saterdagmiddag is dit operasie boerewors maak in Bernie en Lezanne se huis. Ek en Lezanne besluit sommer uit die staanspoor dat ons, ons heeltemal gaan distansieer van di è operasie. Ons spring dus in Lezanne se motortjie en vat die pad materiaalwinkels toe vir lappiesgoed.   Sowat twee ure later sms ek my man om te hoor of hulle al begin het met die wors. Die sms piep terug: “Ons warm nog op.”   Terug by die huis tref ons ‘n worsmasjien, vyf vrolike mans, baie vleis en ‘n ordentlike voorraad bier in die kombuis aan. Worsmaak is nie vir sissies nie, verseker hulle ons. Marcel se internet-derms is ook te dun. Hulle gaan m ô re nog nie klaar gestop wees nie…   Intussen help Carlberg mooi om die gemoedere gemotiveerd te hou.   Die worsmakery was nog nie geweldig lank aan die gang nie, of ek hoor Bernie se stem (Hy is aan stuur van die worsmakery gewees):”Manne, sal ons dan nie ‘n vuurtjie aansteek om ‘n stukkie van die wors te proe nie.”   Die worsmakers, of worsbroers, so

Ons kiertsregop huisie

Image
Fotograaf: Bernie Niehaus Ons gaan kyk Maandag na die allerfraaiste woonstelletjie in Wharf street. Die huisie is absoluut bekoorlik met sy brandweerrooi voordeur en outydse stoof. Dis piepklein, maar in my geestesoog sien ek klaar hoe ek dit sal omskep in iets baie gesellig. Ek en my man bid al weke lank vir iets baie spesifieks. Ons nuwe huisie moet ‘n rooi deur h ê , want ek wil so graag net een maal in my lewe in ‘n huisie met ‘n rooi deur woon. Daar moet iewers in die huisie spasie wees vir ‘n tafeltjie met stoeltjies sodat ons mense kan ontvang. Ek en Lezanne moet kan naaldwerk gesels om die tafel. Ek en skoonma Elize moet kan resepte uitdeel om daardie tafel en ek en my man moet kan planne maak en “budgets” laat klop om daardie selfde tafel. In die sitkamer moet daar spasie wees vir ‘n groot, wit “sleeper couch”, want as Wilma en Lyndi en Georgie en Vincent en Nico en Marne en tannie Ters en Corieta kom kuier, moet daar vir hulle ‘n bed wees. Die huisie moet g

Room-en-aarbeikonfyt sonder skuldgevoel

Sy kom stap Frothy’s koffieplekkie in op ‘n rustige pas. Sy stap sommer reguit na die toonbank om te bestel. Sy lyk meer as gemaklik in haar helderpienk skouerlose hempie en denim. My ma sou s ê sy lyk mooi gesond. Ouma Suzie sou s ê : “Sy beter ‘watch’ wat sy eet, want sy sal bitter vinnig rolletjies aansit.” Sy doen iets wat my heeltemal uitboul. Die deursnee vrou staan eers lank en staar na die spyskaart voordat hulle bestel. Heel dikwels moet jy ook eers die vernaamste verskil tussen ‘n “caffe latte” en ‘n “cappacino” uitwys voordat hulle t ó g besluit om eerder ‘n gesonde teetjie te bestel. Voor die uitstalling van koeke en lekkernye kan dit ú re neem. Eers word die kilojoules van elke sny koek teen mekaar opgeweeg. Dan word die uitwerking van die koek op jou skaal en die genot van om dit te geniet, teen mekaar opgeweeg. Dis werklik vir ‘n vrou moeilik om te besluit ó f sy koek sal geniet en of dit eerder “carrot cake” of “squidgy lemon” sal wees. Dan is daar ook nog die “doub

Ons bokke kook

Ek wou van altyd af so graag rugbyreëls verstaan. My pa was ongelukkig nooit veel van hulp nie. Of hy sou ongeduldig sê: “Nee man, pa kyk nou rugby, pa kan nie nou verduidelik nie,” of hy sou my sommer net eenvoudig ignoreer. Met diè verstaan ek tot vandag toe nog niks van rugby nie. My hoogtepunt is wanneer die onderskeie lande hul volkslied sing en ek kan bepaal wie die aantreklikste speler van die dag is! Dinge is egter besig om te verander op die front van my rugbykennis. My man is meer geduldig en het ‘n groot begeerte dat ek moet kan saampraat oor wat op die veld gebeur. So sit ons tweetjies toe Sondagoggend 09:30 vasgenael voor die kassie, beide in Springbokrugbytruie. My man het twee en het daarom besluit dat ek maar een mag leen vir die wêreldbeker. Ja, ons was nie kerk toe nie. My man voel die Here is ‘n regverdige man, Hy sal heeltemal begrip hê vir die feit dat ons kerk verruil vir die Bokke se eerste “game”. Nou ja, die tyd van die “game” maak dit moeilik om te besl

Hoe lyk jou blomtuin?

Sommer so met die afklimslag gister wink my skoonpa my om gou ‘n draaitjie deur hul tuin te kom stap. My Natasha-roos waarna my skoonouers nou meer as ‘n maand moes kyk, wyl ek in Suid-Afrika gekuier het, lyk blosend gesond en gelukkig. Sy is oortrek met knoppies wat die verwagting skep van sommer baie pienk rosies. Net agter die roosboompie groei die tamaties ook welig. Die dieprooi rose en sagtepienk pronkertjies lyk self dolgelukkig. My skoonpa-hulle het plantjies van elkeen van hul kinders in hul tuin. Van Heerden se wingerdstok gaan mooi druiwe dra, Soretha se blommetjies blom vrolik in hul akkertjie. Ek en Lambrecht, hul jongste, dra nog net plante weg! Die dat ek op die ingewing van die oomblik besluit om my skoonpa te vra om een van Natasha se wille lote af te breek vir plant in hul tuin. My skoonpa Danie is immers gese ë n met groen vingers en hy sal ongetwyfeld vir Natasha aan die groei kry daar in hul lushof. Saam met die koffie en sjokoladekoek later, bring ma Elize ‘n

Koffie op Piketberg

So gebeur dit dat ek verlede Saterdag vir die eerste keer op Piketberg kom. Ek verloor sommer dadelik my hart op die oulike Bolandse dorpie. Ons stop vinnig by die Spar op die dorp vir melk en “blueberry” muffins   voordat ons deurskiet na Devilliers-hulle se plaas. Ons tyd op die plaas Saterdagoggend is taamlik beperk. Ons moet net na middagete weer dorptoe vir die rugbyfinaal tussen Nuwerus en Moorreesburg. Devilliers speel vir Moorreesburg. Wilma vra mooi dat Devilliers ons Bo-die-Berg Piketberg moet vat om my die mooi daar te gaan wys. Hy beduie ook dat sy sommer sy beursie moet saambring. Die uitsig van bo af is sprokiemooi. Jy sien so wyd as die Heer se genade. Die kyk is so baie dat dit nie kan opraak nie. Devilliers ry dieper die bergpaadjie op totdat ons ‘n bordjie Bo-die-Berg Piketberg kwekery en teetuin kry. “Ons kan ‘n teetjie gaan drink as julle wil,” kondig Devilliers dan aan. Ek en Wilma laat ons natuurlik nie twee keer nooi nie. Met die stofpaadjie op na die teetui