Posts

Showing posts from 2013

Elke huis kort 'n kersboom

Marli se whatsapp biep gisteraand. Hulle Kersboom is op. Met 'n foto. Dis regtig 'n besonderse boom van houtplankies. Hier en daar is seegroen strepe. Bo-aan die boom hang die allerlieflikste hout engel met 'n groot rooi hart.  Die versierings is mooi woorde. Marietjie se Kersboomfoto het al die 1ste Desember deurgebiep. Hare is meer eenvoudig met rooi en wit kant en lint strikkies as versiering. Haar boom pronk ook met 'n indrukwekkende engel bo-aan die boom. Ons Kersboom was altyd van daardie tradisionele groenetjies. Ons Kersversierings was oor die jare versamel, en daar was selfs so vet Kersvader wat nog uit my ma se kinderdae dateer het. Kersboom opslaan was altyd 'n groot geleentheid waarna ons weke kon uitsien. Die Kersboom was in die middelste deur van die ingeboude kas in my ma-hulle se kamer. Hy was altyd sorgvuldig toegemaak met swartsakke. Die versierings was in 'n klein boksie saam met hom in daardie kas. Etlike dae vooraf sou ek en Marietjie di

Clicks se lekker Kersboekies

Ek was nog nooit skaam om te vertel dat ek 'n produk van die Boesmanland is nie, dat my Pa en Ma iewers tussen Pofadder, Brandvlei en Kakamas 'n lewe gemaak het met 'n klein plasie en drie meisiekinders. Want op Makkiesplaas was daar net altyd oorvloed, en dit het niks met aardse goed te doen nie. Ek dink anderdag aan Kerstyd toe ek nog 'n sproetgesig haasbekkie was. Dit was nou die tyd voor almal selfone gehad het. Groot flat screens, i-pads, en labtops was nog 'n belofte in die toekoms. Almal het die Kennis-reeks in hul boekrak gehad en google moes nog ontdek word. Of dalk was dit al, maar ons huis het nie eens 'n rekenaar gehad nie. Rekenaars en baksteengrootte selfone was vir ryk mense. Ons piepklein oranje televisie was net swart-en-wit en meeste van die tyd was die sneeu daarop so kwaai dat jy nie seker was waarna jy gekyk het nie. Hier vroeg Desember stuur winkels mos altyd boekies uit met al hulle Kersgeskenke vir die seisoen. Clicks en Shoprite sin

Ons eerste vlug

Ek kan liries raak oor 'n lughawe. Soms vra ek met my mooiste smeek stem vir my man of ons nie net 'n bietjie daar kan gaan rondloop nie. Ek wil net deel raak van die ongelooflike "lughawe atmosfeer." Gisteraand kon ek nie 'n oog toemaak nie, want vandag was my eerste vlug as 'n mamma. Haar blommetjiesdoekesak was met millitaristiese presiesheid gepak vir die vlug. ID en kaartjies waar ek dit die maklikste sal kry, provitas en piesang in die kantsak vir 'n krisis, beursie en selfoon op 'n plek waar ek net kan vat, 'n tennisbal en "Jemima puddleduck" vir kou op die vlug en haar tweede dummy bo-op. Tydens die inboek van ons bagasie, land ons agter 'n geselskap Chinese. Hulle is mal oor ons dogtertjie en sy is mal oor hulle. Sy lag oopmond terwyl hulle in Chinees "peek a boo" met haar speel. Dan wil sy die ronde Chinees in die rooi t-hemp en bril nie uitlos nie, en sy rem amper my arm af om hom agterna te kyk. Ek byt op my

Ouma Susie

Vandag ‘n week terug, het ons van Ouma afskeid geneem in Sterkstroom se kerk en begraafplaas. Die dag was skoon en mooi. Langs die graf kon mens die groen en berge ver sien. Die mooi van die natuur het iets diep binne mens kom roer. Dit was altyd net wondermooi. Vanoggend was dit wondermooi en diep hartseer. Ouma se kis het gesak en almal kon vir oulaas lavender blommetjies op haar kis gooi. Elkeen het op sy manier totsiens gesê. Ouma se alle bure was daar, al haar kinders en kleinkinders en agterkleinkinders. Haar haarkapper was daar, en so ook haar huishulp en tuinman. Die swartvrou wat elke dag verby Ouma se huis gestap het met die oulike vet dogtertjie waarvoor Ouma graag lekkergoed gegee het, was ook daar. Almal was daar vir oulaas saam afskeid neem.   Ons het die Saterdag op Sterkstroom arriveer – eerste van alle familie. Tannie Sandra het my saamgeneem om vir Laddie en Ounooi kos te gee. Hierdie twee honde van Ouma moes nou al vermoed iets is verkeerd.   Ek het daardie

Laatnag uitstappie Engen toe

Kleinsus Marli en haar liefde, Steyn, kom kuier vir amper ‘n week hier in ons klein dorpshuisie in die Paarl. Hulle is ongetroud, kinderloos, kommervry. Dis seker waarom ek so senuagtig voel oor die week, besluit ek die oggend voor hul aankoms. Buitendien is Steyn vlaktes gewoond waar hy baie naby aan Pofadder boer. Ons huis is van so aard dat ons die bure se letterlik elke beweging kan sien en hoor. En hulle ons sin. Ek maak nooit praatjies met ons bure nie. Ons kind kry tande en sy is snags moeilik. Ek is so bang hulle praat my eendag aan oor ons kind. Dinsdagaand kuier ek te heerlik met die twee duifies. Amé gaan slaap soet soos ‘n engel. Sy maak my wakker skuins na half een. Ek probeer sag beweeg. Ek probeer haar in ‘n liefdevolle fluisterstem maan om tog groot asseblief verder te slaap. Steyn probeer immers slaap in die kamer regs langs haar, en ek en Marli deel ‘n dubbelbed regoor haar kamer. Lambrecht is nie tuis nie, en daarom kan kleinsus sommer by my in die bed slaa

Kakamas se kanaalhuisie

Die Here begin berei jou menswees voor op Ma-wees sodra daardie eierselletjie in jou baarmoeder begin ontwikkel. Jy staan nie een oggend op en besluit om jou soos ‘n mamma te begin gedra nie. Dit gebeur net. Ek besef dit vanoggend terwyl ek half 10 in die oggend, met ongekamde hare en ongeborselde tande, op die bed lê en Amé aan die slaap probeer maak. Sy moet vanoggend haar oggendslapie neem. Anders gaan sy ‘n mislikke baba wees as haar maatjies arriveer vir haar eerste speel afspraak vanmiddag. Op haar ses maande viering.   Sy slaap rustig totdat ek my arm versigtig probeer uitwriemel vir opstaan. Dan raak die lyfie weer onrustig. Ons kind voel veilig en rustig by my. Dis hoe ek altyd by my ma gevoel het, onthou ek. Ek sou enige plek saam met my ma gaan. Dit het altyd veilig gevoel.   Ek onthou ewe skielik ons Kakamashuisie in 1994. Dit was die jaar waarin Marietjie skooltoe is en knap na Marli se geboorte. Oom Gert Loubser was begrafnisondernemer van die dorp en het aangeb

Lê-goed raak op

Dit was nie ‘n maklike taak om die huis uit te sorteer voor my pa se tweede troue nie. My ma was ‘n netjiese, georganiseerde vrou. Ons huis was net so vol. Oorvol. Ons moes huis leegmaak vir die nuwe seisoen in my pa se lewe. Die gedagte aan ‘n “nuwe” huis was seergenoeg. Die skoonmaak en verdeel was regtig pynlik…soos trap in ‘n duwweltjie, kaalvoet, vroegoggend.   My ma was jammer vir haar goed. Ons het op baie “skatte” afgekom in haar linne laaie. Die kis in die sitkamer was ook vol verrassings. Links bo, agter in my ma se klerekas was ‘n skoenboksie met briefies van ons af. Sy het ook nog haar juwelekissie uit haar dogtertjiedae en eekhoringspaarbussie gehad.   Daar was so baie om te verdeel. Daar was so baie wat nog nooit gebruik is nie. Daar was die blou uitstalgoedjies en die silwerlepeltjies met dorpe se name daarop teen die muur. My reël is…as ek dit vat, gebruik ek dit. Nou eet ons soms, as ons gaste het, vir die pret met die silwer lepeltjies. Dis altyd groot pret

Staaaadiger

Ek gaan kuier vir sewe dae knap duskant Pofadder op Millerton. Stan en Marietjie se stukkie aarde onder die son. Eintlik gaan kuier ek nie hierdie keer vir húlle, soos al die vorige kere nie. Ek gaan kuier vir fraaie klein Anmari, my sussie se eersteling. Mercia, Annemarie Miller. Die trotse draer van albei haar ouma se name.   Marietjie is rustig. Sy kom eers soggens na nege uit die slaapkamer. Anmari is soos haar mamma, gelukkig en rustig.   Niks of niemand jaag hul aan nie.   Ek en Amé kom ook in die plaasritme. Ek leer in hierdie sewe dae dat Amé hou van ‘n gawe oggendslapie voor teetyd. Sy hou van ‘n lang middagslapie na middagete. Sy hou daarvan om haar tone te wikkel in die oggendson. Sy hou net niks van die sokkies waarin ek haar babavoetjies elke dag so toewikkel nie! Sy hou daarvan as Marietjie-hulle se Tommie-hond haar tone lek. Sy hou daarvan om namiddae onder die boom by die voorstoep te lê en haar te vergaap aan die blare se beweging.   Sy hou ook van hoender

Die ding van sjokolade

Meelgoed is haar dood, kla my tannie Kotie altyd. Enige blêrrie meelgoed. Dis nou van ‘n snytjie brood met kaas en konfyt, tot ‘n sny ciabata-brood met lekker rojaal botter daarop. Jou tandemerke moet ten minste sit as jy klaar gehap het. My pa is ook ‘n meel-mens. Hy sal sy siel verkoop vir ‘n dik sny vars boerbrood. Verkieslik die korsie. Smeer ‘n lagie vet en vyekonfyt daarop, met so skeppie kaiings teen die kant, en hy is in die hemel. Lyndi kla altyd oor haar soettand. Sy kan ‘n tweede koeksistertjie, of ‘n goeie stukkie sjokolade nie weerstaan nie. Sy hou dit nie eens meer in haar huis aan nie. Dit stel haar tog net in die versoeking. Sy kan haarself soms nog tot ‘n mate handhaaf, maar ‘n glasie wyn later en jy skrik nie meer vir die gevaar wat soet inhou nie. Dan lag jy vir die kilojoules. Wyn gee onnodige, onwelkome bravade, aldus my vriendin. Ek was nooit lief vir sjokolade nie. Iewers tydens my swangerskap het iets lelik skeefgeloop. Ek het sjokolade ontdek. En ek w

'n Pa-en-dogterstorie

Ons gesels elke oggend saam op die bed voor Lambrecht pad vat werk toe. Vanoggend maak ons weer so. Lambrecht leer Amé die vingers – eers die duim, dan die wysvinger, dan die middelvinger. Hy hak ewe skielik vas. “Dan die ringvinger,” help ek. “Nee, ons moenie nou al met ‘n ringvinger kom nie. Sy moet nog niks weet van ringe nie. Ek weet nie wat ek doen as sy die dag met ‘n “boyfriend” by die huis aankom nie.”   Ek dog eers my man maak ‘n grap. Ons babadogtertjie is maar skaars vier maande oud, en hy lyk alreeds verergd oor die ouens wat baie ver in die toekoms by ons huis sal wil opsit. Net die gedagte maak hom na ‘n bose Pappa lyk.   Ek spot anderdag met Stan, my swaer van Pofadder, dat hulle dogtertjie darem eendag baie Pofadderklonge sal hê wat wil kom kuier. Plotseling kom daar ‘n donderwolk oor sy gesig. “Hulle moet net weet, nie enige donner sal op hierdie werf kom kuier nie,”was sy antwoord onmiddellik. Dis belangrik om te weet dat Anmari eers oor ‘n maand gebore sal

Die tyd vlieg

Ek raak oud, besef ek met ons onlangse kuier op Makkiesplaas. (Ek ken die storie van ouderdom is ‘n relatiewe begrip. Nogtans.) Ek stap na die gronddammetjie so half kilometer van ons huis af. Ek wil alleen gaan. Ek tel eers plat klippies op om te sien of ek nog ‘n koppie en piering kan gooi. Die genoegdoening van my eerste volmaakte koppie, piering en teelepel sal seker net ‘n goeie gooier kan begryp. Dan stap ek na die inloop van die gronddammetjie. Dit maak sulke lekker hol inspoelplekke wat altyd ons huisies was. Ek gaan sit in die grootste “huisie.” Hier moes my Wilma-vriendin ‘n veltie vang in St.2. Die gedagte het haar glad nie aangestaan nie. Daar was nie uitkomkans nie. Haar nood was groot en die huis ver. Ek kry ‘n wit kaartjie waarop in koningsblou ‘n versie geskryf is in sierskrif. Agterop het Liezl in haar mooiste handskrif geskryf: Ek is lief vir jou. Dis baie oud, St.3 oud. Die kaartjie is waarskynlik by Kakamas se Christelike boekwinkel gekoop. Dit was een van on

Oor oorvloed

Die woordjie “oorvloed” is ‘n ontsagtelike mooi woord. Dis soos vars heuning op jou tong en bring ‘n warmte in jou binneste. Ek lees vanoggend Joh.10:10 wat sê: Ek het gekom dat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed. Die woord bly tintel op my tong.   Oorvloed laat my dink aan my pa se melkkoffie wat hy elke oggend gemaak het terwyl ons daar kuier. Volroommelk met moerkoffie in so gróót beker.   Ek en my pa het daai koffie soggens alleen langs die tafel sit en drink. Dan het ek sommer uitgevra oor die bure, oor die skaap, oor my laatlam sussie op Potch. Dit was goed.   Oorvloed laat dink my aan Marietjie se middagete tafel verlede Dinsdag. Daar was die heerlikste wildspastei. Saam met dit was bruinrys, Liamé se ongelooflike lemoenpatats, ingelegde beet en goudkleurige bakaartappels. Oorvloed. Ons het gesellig gekuier om haar Dinsdagmiddagete oorvloed. Dit was goed.   Oorvloed laat my dink aan ons stop oppad terug net buite Garies. Ongeveer so 50km van Bitterfontein af. O

Pinkstertyd op Kakamas

Toe ds. Peet Sondag aankondig dat nagmaal komende Sondag begin, kon ek nie help om terug te dink aan nagmaal as ‘n koshuiskind nie. Nagmaal in Kakamas se pragtige N.G. Kerk in Voortrekkerstraat langs die laerskool. My kerkklere was maar skraps. Ons het nie elke Sondag kerk toe gegaan nie. Kakamas kerk was net té ver.   My pa het Sondae vir ons Sondagskool gegee in sy kantoor. Sondagskool was na die RSG-preek oor die radio. My pa se sondagskool was altyd lank. Hy het elke lessie met groot deeglikheid voorberei. Ek wonder vandag hoeveel laat aande hy hieraan gewerk het. Aande wat hy dalk ook eintlik baie eerder met ‘n Landbouweekblad sou wou bed toe.   Pinkstertyd was dus vir my ma ‘n kopseer. Sy moes vier dae se kerkklere vir haar drie meisiekinders bymekaar kry. My en Marietjie se kerkrompies kleintyd was altyd self gemaak deur my ma. Ons was mal oor geruite materiaal. Of ek kan nie onthou of my ma mal daaroor was en gevolglik ons ook nie. Die somtotaal van ons kerkklere wa

10 dae kuier

My Marietjie-sussie kom kuier ‘n week na Amé se geboorte vir tien dae. Sy klim die Interkaapbus met haar swanger lyfie in Pofadder. Ons kry haar vroegoggend in Malmesbury. Sy lyk vodde. Sy het my uit die staanspoor gewaarsku dat sy kom kuier om kos te maak en huis te hou. Sy weet net so min van babas. Hare moet nog arriveer.   Ander vrouens met pasgebore babas kry geleentheid vir jammer wees vir hulself. Hulle kry kans om te rou oor hul nie-meer-swanger lyfies wat steeds swanger lyk. Hulle word verskoon as hul heeldag in nagklere loop en nie kos maak vir hul mans nie.   Marietjie het baie goeie eienskappe. Simpatiek wees is nie een van hulle nie. Teen Sondagaand meld sy aan dat sy nie meer kan wag vir Maandag nie. Ons gaan bietjie tuin werk. Ek moet uit die huis kom en son op my lyf kry. En ons gaan die oggend begin met ‘n ent se stap. Ek en Amé is Maandagaand ewe moeg van al die vars lug. Tussendeur die tuin werk het Marietjie nog haar weg oopgesien om ‘n hemelse lamspastei

Sushi en nuwe babas

Ek is al die laaste ses maande ongelooflik lus vir sushi en whisky. Whisky het ek saam met my skoonmense op yskoue Engelandse aande leer drink. Net sulke klein, klein bietjies op ys. Toe gaan besoek ons Skotland en proe die moeder van whiskys. Sedertdien is dit ‘n klein bederf wat ons, onsself op spesiale aande gun. Ons drink meer as spaarsamig aan ons 16jaar Glenlivet Nadurra wat nog van skotland af saamkom. Vir nege maande is daar nie ‘n enkele whiskyglas in ons huis vuilgemors nie.  Ons besluit ons om onsself te bederf. Amé is immers een week en ‘n dag oud. Ons kry al van haar winde uitgevryf, ons begin kry die bad reg (Sy het niks eens gisteraand gehuil tydens badtyd nie!) en doeke omruil is nie meer so nare besigheid as aan die begin nie.   Maar as daar ‘n klein babatjie in die huis is, gebeur niks meer sommer so maklik nie. Ons moet eers sorg dat daar ‘n voorraad melk is vir Amé se volgende voeding voordat Lambrecht klein bietjie whisky vir ons albei op ‘n paar ysblokkies

Verewig is so finaal

Ons tassies staan al die afgelope twee weke gepak. Hare is ‘n wit blommetjie doekesak wat ons by Lyndi gekry het. Myne is ‘n blou blommetjie een wat ek nog in Stamford se “high street” in Engeland gekoop het. Haar kamer is prentjiemooi – soos ek nog altyd daarvan gedroom het. Nou wag ons, ons eersteling se koms met senuwees, gemeng met opgewondenheid en afwagting af. Saans wil die slaap nie lekker kom nie. Of ons word in die middel van die nag wakker en die slaap bly weg. Laasnag word ek om middernag wakker met Lambrecht se hand op my maag: “Engel, is jy oraait? Amé skop verskriklik.” Ek is oraait, net soms totaal oorweldig deur die gedagte van die nuwe hoofstuk wat wag. Micha, my een skoonsuster sê dis nie ‘n nuwe hoofstuk nie. Dis ‘n nuwe boek. Micha en Van Heerden se jongste is agt weke oud. Nina en Luca is die mooiste iets wat met hulle kon gebeur, vertel hulle dikwels. Petra laat weet uit die Kalahari dat hul weekoue Deniel haar iets nuuts van liefde geleer het. “Dis ‘n l

Paaseiers en paashase

  Wanneer jy op kraamverlof is, het jy baie tyd vir dink. Dis nou as jou tassie klaar gepak is, jou vrieskas gelaai is met jou man se gunstelinge in gevriesde vorm en elke hoekie van jou huis blinkskoon is. Ek is nou dáár. Ons Lena het vandag bitter hard geswoeg!   Na my middagslapie (Ja, kraamverlof is beslis luuks – voor die baba daar is), begin wonder ek oor die Paastyd. Ek wonder sommer hoe ons gesin dit altyd gevier het. Dis so ongelooflike belangrike datum op die kalender. Ek gaan grawe tussen my albums. En vir ‘n oomblik trek my hart ‘n punt van verlang na kindwees op Makkiesplaas.   Ek’s nie verbaas om te sien Mamma het grootgegaan met ons laaste Paasfees nie. Ons Maandagoggendtafel lyk feestelik. Pappa lyk haastig in sy khaki-kleur hemp. Hy was altyd brommerig as hy moes wag vir later ontbyt saam met die hele gesin. Ons ritueel was immers dat Mamma vroegoggend gereed staan met boerbrood en moerkoffie vir Pappa. Ons ander sou eers later ontbyt. Vir Paas Maandag het

Herfskostyd kom vinnig nader

Woensdag is dit warm. Dis so warm dat ek teen 1-uur probeer onthou of ek al óóit so warm in my lewe gekry het. My voete, wat altyd so mooi fyn en vroulik was, is pofferig en reusagtig. Of so voel dit vir my. Die hitte breek my. Pa Danie skryf in ‘n eposbriefie dat dit koud is. Dis bitter koud. Die sneeu maak dat hy nie eens in die tuin kan werskaf of karwas nie. My Lezanne-vriendin uit Engeland sms dat sy besig is om botterskorsiesop en my ma se Boesmanland “buns” te maak. Sy dink sommer aan my. Ek gaan haal my rooi Adidas waterbottel en drink nog ‘n 500ml yswater met ‘n paar teue leeg. En ek mis Engeland se koue. Ek wil bibberkoud kry. Ek wil by pa Danie en ma Elize in hul sitkamer kuier met die klein verwarmer digby my voete. Ek wil van Ma se ongelooflike koffiemasjien koffie drink uit een van hul groot wit bekers sodat ek my hande bakkies daarom kan vou om dit warm te maak. In die middernagtelike ure wil ek saam met Pa, Ma en hul laatlam, my man, rustig teug aan goeie whisk

Coke en paaseiers

Dit gebeur dikwels. Klein goedjies gebeur, en terwyl dit gebeur weet ek: God is besig om met my te kommunikeer. Hoor ek wat ek hier moet hoor? Woensdagoggend is dit weer sulke tyd. Een van ons kliënte, iewers tussen dertig en veertig, kom loer in sommer net om hallo te sê. Sy is ‘n bekende gesig by ons koffieplekkie. Sy drink normaalweg net ‘n koffie. Sy sit egter lank. Sy gesels lang stories met die meisie wat bedien. As ek kom môre sê en vra of sy nog gelukkig is, gesels sy ook lang stories met my. Woensdagoggend lyk sy soos sy gewoonlik lyk. Kort haartjies, plat op die kop, waarvan die grys plek-plek deurslaan. Sy het ‘n kortbroek aan wat net bo haar knieë sit en haar bloesie is definitief tuisgemaak. Sy kom sê eintlik net vinnig môre, verduidelik sy. Sy gaan later kom koffie drink. As sy nou klaar by die vriendin was. Sy is oppad na haar vriendin.   Die vriendin kry baie swaar. Sy bly iewers agter MacDonalds en sy het nie ‘n werk nie. Dit gaan regtig sleg. Sy bedui

Ek Steve alweer...

Image
Saterdagaand was dit weer sulke tyd. Dit was egter die eerste keer saam met my man… Steve het opgetree by Kleine Valleij net buite Wellington. My man is glad nie ‘n groot aanhanger nie, terwyl ek ‘n slaafse navolger is van dié man met die losse sedes. Dit het baie oortuiging en mooipraat gekos om my Lambrecht-man te oorreed om saam te gaan. Hy moes na ‘n bloubul se sang gaan luister terwyl die Bloubulle en die Stormers mekaar die stryd aansê op Loftus Versveld. Dit was baie gevra, maar ter wille van, het hy ingestem. Hy het die man immers nog nooit op ‘n verhoog gesien nie. En dis iets wat elke Suid-Afrikaner behoort te doen! My eerste keer was in standerd twee in Kakamas se N.G. Kerksaal. Ek het daardie aand my hart op Steve verloor. Totaal en al. Weke aaneen het ek na sy kasset met die rooi omhulsel op my geel “walkman” geluister. Oor en oor en oor. Ons maak ‘n bondel en Wilma stuur die epos Woensdag uit – wie bring wat vir die piekniek by Steve. Sommer vinnig is ons pieknie